Ewald Schmidt

“Daarom dan, broers, staan ons onder 'n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe.”  Romeine 8:12-13

Elektroniese toerusting begin soms vashaak en werk skielik nie meer volgens die vervaardiger se standaard nie. Die eerste plek waar ons ‘n fout begin soek, is of daar ‘n knoppie is wat hom oor laat begin. Die meeste kenners stel voor: probeer dit eers af en dan weer aanskakel om te kyk of hy nie self regkom nie. Meestal lê die fout in sagteware wat net weer nodig gehad het om vars te begin. Ek het al so dikwels gewens dat die mens ook so 'n groot rooi oorbegin knoppie êrens op ons gehad het wat ons terugneem na die Vervaardiger se spesifikasies, wanneer ek dom foute begaan het.

Wanneer ons ons eie koppe volg, gebeur dit dikwels dat ons buite die Vervaardiger se spesifikasies optree. Wanneer ek selfsugtig is, gierig raak of toelaat dat wellus beheer oorneem, dan lei dit tot optrede wat vir myself en die mense rondom my baie skadelik, en selfs dodelik kan wees. Ons almal ken seker die kere waar my eie besluite my lewe tot stilstand gebring het, tye wat ek diep in die moeilikheid was.

Wanneer die Gees van God in beheer is, lei Hy ons terug na ons Vervaardiger se spesifikasies. Ons is gemaak as verhoudingswesens. Die heel belangrikste dinge in ons lewe is die verhoudinge waarin ons staan, met God, met ons naaste, met onsself, en met die natuur. Dis die verhoudinge wat al in die Paradys bestaan het, en menslike lewe sinvol en lekker gemaak het. Dis wat die Heilige Gees ons bied- geleentheid om oor te begin. ‘n Geleentheid om weer in harmonie met God te lewe, om met liefde na my naaste uit te reik, om vrede in myself te beleef, en om verantwoordelik in hierdie skepping die natuur te benut. Ons oorbegin knoppie is daagliks beskikbaar, soos nou, wanneer jy die Woord van die Here in jou binnekamer lees. Oorbegin is daagliks net ‘n gebed ver. Om terug te keer na die harmonie in die verhoudings wat die Here in jou lewe gebring het, bring vrede en rus in ons gemoed. Dit maak ons lewens weer sinvol.

Gebed: Here, dankie dat U altyd net 'n gebed ver is. Ek verdwaal so maklik op die lewenspad. My menslike programmering raak so vinnig deurmekaar en lei tot ‘n groot gemors. Here, help my om eerder oor te gee aan u Gees se leiding. Leer my u wil, Heer, u doel met my. Amen