Ewald Schmidt

“Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” Romeine 8:33-34

Die keiser in Rome het gelowiges vervolg omdat hulle hom nie as ‘n god wou vereer nie. Mindere strawwe was om weerhou te word daarvan om handel te dryf- niemand kon iets by ‘n Christen koop of aan hom verkoop nie. Dit raak selfs jou daaglikse brood koop! Hulle burgerregte in die Romeinse ryk is baie ingeperk. Dit moes baie erg wees om soos ‘n krimineel behandel te word, terwyl jy net die liefde van Jesus wou uitleef in die gemeenskap! Al kla die samelewing jou aan, al is daar spot oor jou oortuigings- daar is ‘n baie groter perspektief om te onthou. God het ons alreeds vrygespreek! Menslike regters sou ons kon veroordeel. Hulle sou gelowiges in die tronk kon gooi, of laat doodmaak. Dit was die belewenis van die eerste eeu gelowiges, en dit gebeur vandag nog steeds in sommige lande.

Maar ons behoort aan die Here. Die groter waarheid van ons lewe is dat ons duur gekoop is. Ons Here Jesus stap met ons ‘n pad deur die lewe. Hy het vir ons gesterf aan die kruis op Golgota. Hy is nie ‘n dooie profeet van lank gelede nie. Hy het opgestaan uit die dood, en daarmee die dood se bedreiging op die gelowige se lewe gebreek. Hy het opgevaar na die hemel toe, en daarmee die pad oopgemaak tot by ons Vader se hemelse woning. Hy sit op hierdie oomblik aan die regterhand van die troon van God, die ereposisie in die hemel. Maar hierdie is die grootste troos: op die oomblik is Hy besig om vir ons in te tree by die Vader. Jesus bid vir ons! Hy vra sy Vader om ons so te help dat ons sal volhard in die stryd. ‘n Paar dae gelede het ons gesien dat die Heilige Gees vir ons intree met versugtinge wat nie in woorde gesê kan word nie. Nou: Jesus bid vir ons! Dit gee ons die hoop dat ons hierdie reis suksesvol sal voltooi, ongeag die uitdagings langs die pad.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U my duur gekoop het aan die kruis op Golgota. Dankie dat u offer aanvaar is, dat U die dood oorwin het deur u opstanding. Dankie vir u hemelvaart, daarmee het U vir my ‘n nuwe bestemming vir my lewensreis gewaarborg