Ewald Schmidt

“Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” Romeine 8:35-36

‘n Mens kan die grootste ontberinge deurstaan as jou rede hoekom jy dit doen, sterk genoeg is. Ons hou nie van swaarkry nie. Ons sal van nature altyd die maklikste keuse maak om pyn en ongerief te vermy. Aan die anderkant is die geskiedenis vol van mense wat bonatuurlike opofferings gemaak het om iemand anders se lewe te red. Of verhale van mense wat die grootste lyding getrotseer het vir dit waarin hulle glo, omdat hulle geloof sterk genoeg was. 

Die kinders van die Here in Rome het werklik gely vir hulle geloof. Ons teksvers praat nie van vae moontlikhede aan die anderkant van die wêreld nie, maar die daaglikse werklikheid van gelowiges in Rome. Hulle het baie gely. Daar was altyd die vrees – wanneer is die klop aan die deur vir my? Soms kon hulle nie kos koop nie, weens die inperking van hulle ekonomiese aktiwiteite. Hulle is verneder deur nakend in die openbaar gemartel te word. Hulle is met swaarde of deur wilde diere doodgemaak in die teaters vir die die vermaak van die Romeinse skare. Baie het soos Jesus aan ‘n kruis gesterf. Hulle kon met goeie reg Psalm 44:23 aanhaal – dis oor U dat ons soos slagskape behandel word. Hierdie gelowiges kon so maklik die rug op Jesus draai, en die keiser vereer, en weer opgeneem word in die samelewing met al die voordele wat dit ingehou het. Maar die meeste het nie. Waarom nie?

Al hierdie uitdagings was juis daarop gerig om mense van Jesus af weg te draai. Dit was so in Rome in die eerste eeu, en dit is so tot vandag in baie plekke oor die wêreld. Gelowiges het die moontlikheid van lyding aan die een kant van die skaal geplaas. Aan die ander kant het hulle die liefde van Jesus geplaas. Hulle het ontdek dat die liefde van Jesus hoop gee omdat dit vir altyd is, en dat dit ons lewe sinvol maak. Ek is gemaak om in verhouding met die Here te lewe. As ek eers een keer die liefde van Jesus ervaar het, en begin verstaan hoe groot dit is, dan is daar niks wat daarteen opweeg nie. Niks, of niemand is meer kosbaar as die liefde van Jesus nie. Jesus het my lief. Vir daardie liefde het gelowiges deur die eeue gelewe en gesterwe. Jesus is dit werd.

Gebed: Dankie Jesus, vir u liefde. Dankie dat U so baie opgegee het vir my, om my te red. Dankie dat U beplan vir ‘n ewigheid saam met my. Dankie dat u liefde vir my mooi is, en genoeg is. Daarvoor wil ek lewe, en daarvoor sal ek sterwe. Amen.