Ewald Schmidt

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Romeine 8:37

“Wie is ek?” is die een vraag waaraan ons ons hele lewe lank werk om te antwoord. Van kleins af versamel ons terugvoer uit die woorde en dade van die mense rondom ons, om dit vir onsself uit te maak. Die woorde van ouers en ons broers en susters dra besondere gewig. Hulle positiewe woorde en gesindheid kan ons op ‘n baie gesonde manier oor onsself laat dink. Maar net so is die mense die naaste aan ons se afbrekende woorde en gesindhede dit wat ons die seerste maak. Naas die ouerhuis het elkeen van ons nog die ervaring van ons skooldae gehad. Dit is ‘n baie kompeterende tyd in ‘n mens se lewe. Ons meet onsself teen die aanvaarding van ons tydsgenote – is ek so slim, en sterk, en vinnig, en mooi as die ander? Ons hele lewe het daarom gewentel om aanvaarbaar te wees. Maar die spot en boelie ervarings wat sommige mense op skool moes deurmaak het diep letsels gelaat. Woorde en dade het sommiges soos groot verloorders laat voel. Nie goed genoeg nie.

Na ons skooldae bly ons voortdurend verder bou aan die prentjie in ons kop: Wie is ek? Behalwe vir mense, en die omstandighede wat ek deurmaak, is daar ook my eie innerlike gesprek wat ‘n groot rol speel. Hoe praat ek oor myself? Wat sê ek vir myself wanneer ek ‘n fout maak, of iets nie regkry nie?

Die gelowiges in die eerste eeu in Rome het deur moeilike tye gegaan. Hulle het ervaar dat hulle soos slagskape behandel word deur die keiser. Hulle het daaglikse vrees en fisiese vervolging verduur, net omdat hulle geglo het dat Jesus die Here is. Hulle het baie woorde van veroordeling beleef, en waarskynlik dikwels in vernederende situasies beland omdat hulle burgerregte ontneem is. Hoe het hulle later oor hulleself gedink?

In die uitdagende tye kom hierdie bemoedigende antwoord: die heel belangrikste opinie oor wie ons is, behoort aan die Here. Hy het sy kinders baie lief. So lief dat Jesus vir ons gesterf het. Die wêreld sien dalk die vervolging en die marteling in die arena raak. Die Here sien sy kinders nie as verloorders nie. Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Ten midde van al die uitdagings wat ons trotseer. “In al hierdie dinge…” Dis seker een van die heel belangrikste fondamente om ons selfbeeld op te bou! Ek is ‘n nuwe mens met ‘n nuwe identiteit deur Jesus se liefde. Met God se hulp is ek ‘n wenner!

Gebed: Here, dankie dat U my liefhet. Dankie dat U my meer as ‘n oorwinnaar maak deur u liefde. Help my om dit te onthou wanneer die lewe moeilik raak, of wanneer mense se woorde en dade my seer maak. Amen