Ewald Schmidt

“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”  Romeine 8:38-39

Deur ons hele lewensreis is daar een groot uitdaging. Ons leer om verlies te hanteer. Daar is so baie dinge wat van ons weggeneem kan word. Dit begin seker al met ons fopspeen! Soos ons ouer word moet ons dikwels dinge agter laat. Daar kom ‘n dag dat ons ons skooldae agter los, en later ons alma mater waar ons verder studeer het. Alle verhoudings werk nie uit nie, ons laat vriende en liefdes agter. Soos die lewenspad aanstap kom daar ‘n dag wat ons ouers nie meer met ons is nie. Kinders emigreer. Ons laat soms ons gesondheid agter. En die laaste dag gaan ons die lewe agterlaat, en ons weet nie wanneer daardie dag is nie. In die lewensreis neem ons afskeid van gunsteling troeteldiere, ons word ontneem van besittings deur misdaad.  Soos die gelowiges in die eerste eeuse Rome kan ‘n mens dalk jou vryheid ontneem word ter wille van jou geloof. Byna alles in ons lewe kan van ons af weggeneem word.  Een van ons mees basiese behoeftes is sekuriteit- dit waarvan ek seker kan wees. Wat is ooit nog seker vandag? Wat bly dan oor?

Ons sluit hierdie reis af oor die lewe deur die Heilige Gees deur herinner te word aan die vaste sekerheid waarin ons sekuriteit lê. Ons lewe altyd met hoop. Die hoop lê nie in onsself nie, want ons is swak en nietig. Dit lê nie in ons omstandighede nie, want dinge verander so vinnig. Die vaste sekerheid in ons lewe is dat God vir ons lief is. Hy het sy kinders lief met ‘n ewige liefde. Dit is die sekerheid: daar is niks in hierdie skepping, en niemand wat bestaan wat God se liefde van ons af kan wegvat nie. God se liefde is groter as my grootste uitdaging. God se liefde is selfs bestand teen dood en siekte. Engele en bose magte is nie in staat om dit te roof nie. Geen afstand, hoogte of diepte kan ons ooit weer skei van God se liefde nie. Daardie liefde is duur gekoop deur Jesus Christus ons Here. Die liefde is relasioneel – dit is gebou op die verhouding wat God met my het. Dit omsluit my hele lewe- alles wat ek is, dink en doen word nuut gemaak deur die liefde van Jesus. Dit doen God die Heilige Gees in my lewe.

Gebed: Heilige Gees, dankie dat U my lei op my lewenspad. Dankie vir al die wonderlike ontdekkings in Romeine 8. Ek is ‘n nuwe mens deur die liefde van Christus. Ek is vrygespreek, daar wag geen oordeel meer nie. Ek is meer as ‘n oorwinnaar deur u liefde. Alles in my lewe sal ten goede meewerk. Niemand kan my skei van u liefde nie. Help my om dit te onthou. Help my om met die krag van die Heilige Gees te lewe soos ‘n nuwe mens, tot u eer! Amen