Ben Fourie

“…en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Jesus Christus. 2 Timoteus 3:15

Vir elke gelowige is die heilige Skrif die absolute bron van kennis oor God. Die woord Bybel stam van die Griekse woord biblion (meervoud biblia) af wat oorspronklik papirus en later papier en dan uiteindelik ’n boekrol of boek beteken het. Ons woord biblioteek het dieselfde stam en beteken doodgewoon ’n versameling boeke. So verwys die woord Bybel ook na ‘n versameling boeke en soos in enige goeie biblioteek kry ons in die Bybel boeke van uiteenlopende aard, ja selfs pragtige liefdesverhale. Almal het egter een doel en dit is om, soos die teks in Timoteus vir ons sê, ons kennis uit te brei en dan spesifiek ons kennis oor God, verlossing en geloof.

Blaai jy deur die Bybel is daar boeke oor geskiedenis waar beskryf word hoe God deur die eeue met sy volk en kerk gehandel het. Daar is profetiese boeke waar God Sy boodskap deur mense aan mense duidelik gemaak het, wysheidsliteratuur soos Spreuke en Prediker wat ook pragtige poësie bevat. Die Evangelies en Handelinge is ook geskiedskrywing, maar ook veel meer as droë stukke geskiedenis, want hier word beskryf hoe God deur sy Seun verlossing bewerk het en sy kerk op aarde gevestig het. Daar is die vir ons effens vreemde Apokalipse soos Openbaring en Daniël en dan die besondere poëtiese boeke soos Job, die Psalms en Hooglied.

Poësie in die Bybel is egter nie tot enkele boeke of ‘n spesifiek herkenbare gedig beperk nie. Oral in baie verskillende boeke word daar deur besonderse taalgebruik of ritme en veral in liedvorm lig op die baie verskillende aangesigte van God gewerp. God is so groot en verhewe in sy volkome almag dat ons meesal maar sukkel om Hom in gewone mensetaal vas te vang en dit is waar taal wat anders as die gewone aangewend word ons iets meer van Hom kan laat verstaan. Gedurende die volgende paar weke gaan ons na liedere en ander verskuns in die Bybel kyk.

Gebed: Here U is so oneindig groot, die Onsienlike en ons sukkel so om iets van U in mensetaal vas te vang. Help ons deur die skoonheid van u Woord om iets te leer van wie U werklik is. Amen