Ben Fourie

“Hoe loop die pad na die plek waar die lig woon?” Job 38:19

Job is moedeloos gedink oor die lewe, hy is al deur die ashoop en potskerf episode, hy is op en gedaan geredeneer met vriende wat na sy mening net God se kant van die saak sien en nie ook ‘n bietjie simpatie het met wat hy dink en voel nie. Boweal is hy moeg en moedeloos geworstel met God, die God wat hy gedink het hy goed ken en wie hy, soos daar in hoofstuk 1:1 staan, “vroom en opreg” gedien het.

Nou is hy by die punt waar hy geen hoop vir homself meer sien nie. ”Deur die groot geweld van God hang my klere vormloos aan my”, “Ek roep na U om hulp maar U antwoord my nie. Hier staan ek, maar U steur U nie aan my nie” en “Al wat vir my oorbly is ‘n treurlied op die lier, ‘n lied van trane op die fluit.” (Job 30:18,20 en 31).

Al wat hy nou nog kan doen is om sy kant van die saak te stel om hom so voor God en sy vriende te regverdig. Hy gaan so vêr as om die Here uit te daag om hom op ’n betroubare skaal te weeg om te sien of hy dan werklik so min werd is. Dan noem hy al sy deugde soos dat hy weeskinders en weduwees versorg het, nooit na ander vrouens gekyk het nie, armes gevoed en geklee het en vir die vreemdeling kos en huisvesting verskaf het. Job wil vir God en sy vriende wys hoe onregverdig dit is dat al die groot rampe hom getref het.

Nou tree God self tot die gesprek toe en vra vir Job bitter moeilike vrae, vrae wat geen mens eintlik kan beantwoord nie, want dit is inderdaad net God wat weet hoe loop die pad na waar die lig woon, wat weet waar die sneeu gebêre word, wat aan die perd sy krag kan gee en op wie se bevel die aasvoël hoog kan opvlieg.

So stel ons ook graag ons saak voor God, regverdig onsself voor Hom, vra ons as die lewe ‘n skadu oor ons gooi: hoekom ek? Maar waar gaan soek ek nietige mens die pad na waar die lig woon? Goddank dat Hy self vir ons die Lig is, dat Hy verstaan as ek moedeloos geworstel is.

Gebed: Ons dank U dat as ons soms voel asof ons tot in die siel gekneus is deur die lewe, U daar is. Dankie, dat ek my nie voor U hoef te regverdig nie, want U het my lief net soos ek is. Amen