Ben Fourie

“Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.”  Job 42:5

Om God te sien! Wat ‘n ongelooflike iets. Vir die mense van die Ou Testament was die idee “om God te sien” iets heeltemal vreemds, inderdaad skrikwekkend en gevaarlik. Die Here sê in Eksodus 33:20 vir Moses dat niemand sy aangesig sou sien en nog bly leef nie. Wanneer God wel op Sinaiberg verskyn moet Moses in ‘n skeur wegkruip en kon hy God net van agter af sien. Wanneer die volk die weerligte en donderslae en die donker wolk op Sinaiberg sien, pleit hulle by Moses dat hy liewer met hulle moet praat, want hulle vrees vir God is te groot. Ook die Hoëpriester kon net een dag per jaar agter die voorhangsel ingaan, daar waar God se heerlikheid sigbaar geraak het. Tog sê Job “maar nou het ek U self gesien”

Job praat natuurlik figuurlik. Sy “sien” van God is heeltemal iets anders as om met die oog te sien. Tot op daardie stadium was alles wat hy van God geweet het net hoorsê. Sy eie idees en dit wat ander mense, ook sy drie vriende, van God gesê het, was mensgemaakte idees, ‘n skewe beeld van wie Hy werklik is en van hoe Hy optree. Maar nou na sy worsteling met die lewe en met God, en sy besef van hoe anders en verhewe God is, verstaan en ervaar Job vir die eerste keer wie Hy werklik is. Die skille het van sy geestesoë afgeval, hy sien nou vir God in sy volle gedaante en heerlikheid.

God het maar gedurig nodig om ook met ons in gesprek te tree, dikwels ‘n twisgesprek, want ons hoor so dikwels van Hom in ons eie en ander mense se geykte idees oor wie Hy is en wat Hy doen. Ons sien ongelukkig dikwels so min van wie Hy is omdat ons oë verduister word deur wie ons “dink” Hy is. Daarom moes Hy vir Jesus Christus stuur sodat ons ook soos Job kan uitroep: “maar nou het ek U self gesien”.

Gebed: Liewe Here, maak asseblief my oë oop en vat die skille van eie idees oor U van my oë af sodat ek U ook in u grootheid kan sien. Amen