Ben Fourie

…waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word.” Rut 1:16

Met hierdie woorde begin ‘n pragtigste liefdesverhaal in die Bybel, maar nie net die liefdesverhaal tussen Boas en Rut nie, maar ook die verhaal van die besondere liefdesband tussen Rut en haar skoonma Naomi. Die storie begin in die heidenland Moab waarheen Elimelek en sy gesin, gedring deur hongersnood, vanaf Bethlehem moes wegvlug. Hy sterf, sy twee seuns sterf en hulle Moabitiese vrouens bly agter met hulle skoonma. Omdat dit weer goed gegaan het in Juda besluit Naomi om na Betlehem terug te trek. Orpa bly in Moab agter, maar Rut was vasbeslote om saam te gaan.

Haar beweegredes is duidelik en sy sê hierdie onsterflike mooi woorde: “waar u gaan, sal ek gaan … u God is my God”. U is nou my nuwe moeder. Ek sal my land en my familie verlaat want my hart hang aan u, maar baie meer nog, ek kan nie meer die God van Israel vaarwel sê nie. Dit was nie vreemd vir mense uit die heidennasies, om van gode te verwissel nie, selfs Israel het dikwels agter die afgode aangegaan, maar hier is iets meer op die spel. Alhoewel Naomi in ’n heidenland tereggekom het en haar seuns met meisies uit die heidense volk getrou het, het sy duidelik steeds die God van haar vaders aanbid. Rut het so ook die ware God leer ken en was bereid om haar volk, haar familie, tradisies en Moabitiese godsdiens agter te laat.

Maar dit is nie net Rut se besluit nie. God is self hier aan die werk. Soos die verhaal van Boas en Rut op die oesland ontvou (lees gerus weer die hele boek) kom ’n mens agter dat God lankal ‘n plan met die familie gehad het. Boas was nie verniet ‘n vermoënde familielid van Naomi se oorlede man nie, hy was ook volgens Joodse tradisie die sogenaamde losser, die een wat moes toesien dat sy oorlede familielid se vrou versorg is. En so speel die liefdesverhaal hom tot aan die einde af. Boas en Rut trou en ‘n seuntjie word gebore. Hy word Obed genoem en van hom sê die Bybel: “Obed was die voorvader van Dawid” (Rut 4:17) en natuurlik was Dawid die voorvader van Jesus Christus, die ware (Ver)losser van ons almal.

Gebed: Ons dank U dat U eeue voor Jesus se geboorte reeds beplan het om u Seun na die wêreld te stuur, ja selfs gebore te word in dieselfde dorp waar Rut en Boas gewoon het. Amen