Ben Fourie

“Hy is soos ‘’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie.” Psalm 1:3 (lees die hele Psalm)

Ek hou van ‘n venstersitplek wanneer ek vlieg. Al is jy amper 10 000 meter hoog in die lug is, is dit ongelooflik interessant om na die grond daar vêr onder te kyk. Speelgoed dorpies skuif verby en die spel van lig op die land, veral as daar los wolkies is, is besonder treffend. Van vêr af kan jy sien waar ‘n rivier sy loop het. Dit lyk soos ‘n groen slang op die bruin en oker van die grond. Groen, want waar water is, is bome.

Dit gaan inderdaad baie goed met die bome wat so gelukkig is om op die rivierwal te staan. Ry maar deur die droë dele van ons land in droogtetyd wanneer selfs die swarthaak oud en dood lyk, maar as jy naby aan ‘n rivier of lopie kom, staan die bome lowergroen.

“Dit gaan goed met die mens, wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.” Vir die digter is die mens wat naby aan God leef soos die boom op die rivierwal wat nooit dors kry nie, vrugte op die regte tyd dra, altyd lowergroen is. Onder die “woord van die Here” moet ons nie aan ons huidige Bybel dink nie. Toe die Psalm geskryf is, het daar nog maar min van wat vandag in die Bybel is reeds op skrif bestaan. Om met die woord van die Here besig te wees en dit dag en nag te oordink, beteken veel eerder om met alles wat ons van God weet besig te wees, ja eintlik met God self besig te wees.

Hoe nodig ons het om met Hom besig te wees, kan as volg geïllustreer word. Haal een van die rivierbome uit en gaan plant dit op ‘n plek vêr van die rivier af. Dit sal aanvanklik lyk of dit groei, maar na ’n tyd sien jy die boom sterf. Dit help nie dat hy eens op ‘n tyd langs die rivier gestaan het nie. Om met God besig te wees is regtig ‘n elke dag en elke nag saak.

Gebed: Dankie, Here dat u stroom van lewende water nooit opdroog nie en dat Jesus se uitnodiging dat almal wat dors het na Hom toe kan kom, soos ’n diep rivier is waar daar altyd lewenswater sal wees. Amen