Ben Fourie

“Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” Psalm 16:6 (BDV)

Dikwels wonder ek wat dit is wat die meeste van ons so laat hunker na ‘n stukkie grond iewers; ’n plaas, ‘n kleinhoewe en of selfs net ’n erf op die dorp of in die stad, ‘n stukkie aarde wat net myne is. Dalk verplaas ons onbewustelik ons hunkering na veiligheid, stabiliteit en vrede in ons elke dag se lewe na die sekuriteit van eienaarskap van grond.

Vandag het ons landmeters wat met gesofistikeerde instrumente plase en erwe kan opmeet, maar in die Bybelse tyd is gebruik gemaak van meetsnoere of toue van ‘n afgemerkte lengte om die werk mee te doen. In die boek Josua lees ons hoe die beloofde land “opgemeet” en onder die verskillende stamme van Israel verdeel is, dikwels deur die lot te werp. Die digter van die psalm het hierdie gebruik in die oog wanneer hy skryf oor God se teenwoordigheid in sy lewe.

Sommer uit die eerste vers van die psalm kan ’n mens aflei dat die digter daarvan in gevaarlike omstandighede verkeer. Sou ons Dawid as die digter aanvaar, kon dit wees tydens sy vlug voor Saul uit. Ander plaas die psalm in die tyd na die terugkeer uit die ballingskap toe die teruggekeerdes meesal met ‘n swaard in die hand die mure van Jerusalem moes herbou, gevaarlike tye dus. Die identiteit van die digter is nie werklik belangrik nie, maar wel oor hoe hy God ervaar.

Hy gebruik die beeld van ‘n mooi stuk erfgrond wat vir hom afgemeet is en wat hy onverdiend (met die werp van die lot) uit die hand van God ontvang het. Hy ontvang letterlik die lewe self, suiwer uit genade. Daarom kan hy in die gevaarlike situasie waarin hy verkeer in vers 10 sê: “U gee my nie oor aan die dood nie” inteendeel, juis wanneer hy in lewensgevaar is, bely hy dat ‘n pragtige deel vir hom afgemeet is.

Gebed: Ons Hemelse Vader, saam met die digter wil ons ook bely; “Here U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang kom alles van U af”. Amen