Ben Fourie

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie” Psalm 23:1 en verder (Lees die hele Psalm)

Regtig? Dat die Here my Herder is glo ek wel deeglik, maar dat ek niks kortkom nie is ‘n heel ander saak. Kan ’n mens ooit sê dat jy niks kortkom nie. Wat beteken dit om niks kort te kom nie? As ‘n mens genoeg brood het om jou honger elke dag te stil, beteken dit dan dat jy wat voedsel betref níks kortkom nie? Wat van kos wat lewensnoodsaaklike proteïene verskaf, of ten minste ‘n bietjie vrugte en groente vir vitamiene en om die eentonigheid van net brood eet af te wissel.

Natuurlik is bogenoemde nie wat die digter van hierdie besonderse gedig in die oog het nie. Die dinge wat belangrik is, lê op ’n heel ander vlak. Vergenoegdheid is vir hom geleë in sielerus, vrede, die regte manier van lewe en daaraan het hy geen tekort nie, want dit is juis by hierdie plekke wat die Herder hom uitbring.

Bogenoemde is alles wel, maar kan ek nie ook op grond van die psalm aanspraak maak op ‘n soort voorspoed teologie nie, kan ek nie van my Herder verwag dat geen ramp of siekte my ooit sal tref nie, kan ek nie maar die anti-depressie medikasie in die asblik gooi nie? As ’n mens so redeneer lees jy die psalm heeltemal verkeerd, want word hier nie ook gepraat van donker dieptes, of soos die Direkte Vertaling sê “die donkerste kloof” nie? Donker tye is daar wel en soms al te dikwels en soms ondraaglik erg. Siekte, verlies, depressie, noem maar op, die lewe is nie vry hiervan nie. Ja, selfs die Herder se geliefde skape spring dit nie vry nie, maar “... sal ek nie bang wees nie, want U is by my.”

Hier lê die rede waarom die digter heel aan die begin kan sê “ek kom niks kort nie”, want as God by my is, is daar inderdaad sielerus en sielevrede ten spyte van die donker kloof wat soms voor my gaap.

Gebed: Saam met die psalmdigter wil ek dankie sê dat u goedheid en liefde my hele lewe lank by my sal bly en dat ek tot in lengte van dae by U tuis kan wees. Amen