Ben Fourie

“Wysheid het vir haar ‘n huis gebou met sewe klippilare. Sy het geslag en wyn reggesit, sy het haar tafel gedek” Spreuke 9:1-2

Die Bybel slaan wysheid baie hoog aan. Die begrip kom oral voor: Eksodus, Konings, Job, Psalms, Spreuke, Prediker, die Evangelies, Handelinge, Paulus se briewe, Openbaring en ander. In bogenoemde deel uit Spreuke word wysheid gesien as ‘n vrou wat ‘n sterk, permanente plek gebou het in die vorm van ’n huis.

Dit is in teenstelling met die nie permanente nomadiese tent van daardie tyd. Die sewe klippilare is gegrond op die Bybelse simboliek van die syfer sewe wat dui op volmaaktheid en afgerondheid en as verdere teken van hoe sterk die huis van Wysheid werklik is. Wysheid berei ook ‘n feesmaal van die lekkerste wyn en kos en dan nooi sy almal om te kom aansit. Die beeld van wysheid, is dus van iets besonders.

Bybelse wysheid beteken natuurlik iets heel anders as om slim te wees en baie kennis te besit. Natuurlik is kennis van God ook verskriklik belangrik. In ‘n belydenisskrif staan tereg dat geloof ’n ware kennis en vaste vertroue is, maar die digter van Spreuke sê in vers 10 van dieselfde hoofstuk wat hy eintlik met wysheid bedoel: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.”

Dit gaan dus nie oor hoeveel ek van God en die kerk en godsdiens weet nie, maar hoe ek in diens van God lewe. Dit is nie hoeveel versies ek uit die Bybel kan opsê nie, maar of ek leef volgens die riglyne van daardie verse. Van die kind Jesus word in Lukas 2:40 gesê dat Hy gegroei het en sterk en vol wysheid geword het. Toe hy as twaalfjarige in die tempel met die leermeesters in gesprek was, was almal verbaas oor sy insig. Insig kom as ek die Heilige ken sê Spreuke. Nie bloot net “kennis” van Hom het nie, maar Hom “ken”.

Gebed: Leer my om U al beter te ken. Amen