Ben Fourie

“Alles tevergeefs sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs.” (Prediker 1:2 1933/1953-vertaling) en dieselfde vers in die 1983-vertaling “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks.”

As ‘n mens hierdie inleidende vers lees is dit nie snaaks dat die ou Joodse leraars selfs in die eerste eeue na Christus nog geredekawel het of die boek in die Heilige Skrif hoort nie. Hoe verder jy lees hoe meer kom jy onder die indruk dat die skrywer baie fyn na die lewe gekyk het en dikwels maar min gevind het om oor opgewonde te raak.

Hy voer drie eksperimente uit. Eers kyk hy na die alledaagse praktiese dinge, dit “wat in hierdie wêreld gebeur” en kom tot die gevolgtrekking “dit is ‘n gejaag na wind”. Dan spits hy hom daarop toe om te verstaan wat wysheid en kennis is en weer besef hy dat dit ook maar net ’n gejaag na wind is. Sy derde eksperiment is om die lewe te geniet en hiervan erken hy dat dit waarmee hy hom besig gehou het hom wel plesier verskaf het. Tog, nadat hy ook daaroor nagedink het, is ook dit niks meer as ’n gejaag na wind nie.

Bogenoemde drie waarnemings omvat eintlik ‘n mens se hele lewe, daar is ons daaglikse werk, gras wat gesny moet word, die woonplek wat gestofsuig moet word, die motor wat al weer gediens moet word. Dit omvat ons soeke na hoër, mooier dinge, die boeke wat ons lees, die musiek wat ons luister, die dors om alles rondom ons te verstaan. Derdens is die ontspanningskant soos die sport wat ons beoefen of as toeskouer geniet, die vleisbraai saam met vriende, die stokperdjies wat ons besig hou. Moet ons nou die Prediker glo dat dit alles net ‘n gejaag na wind is, dat die lewe dus eintlik maar bra sinneloos is?

Kom ons lees verder. In die slothoofstuk kry alles skielik sin wanneer ons in vers 13 lees: “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: “Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word.” Nou maak alles sin. Die dinge wat ons doen, is sinloos as God nie die  sentrale rol in ons daaglikse lewe het nie, maar wanneer Hy die spil is waar om my lewe draai, jaag ons nie na wind nie, maar na ’n vol lewe.

Gebed: Dankie, dat die lewe werklik nie sinloos is nie. Dankie vir mooi musiek, gesondheid om sport te doen en goeie kos wat ons kan geniet. Dankie dat U sin gee aan wat anders ’n doellose bestaan sou wees. Amen