Ben Fourie

“Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle ou mense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. Joël 2:28

Om ‘n profeet te kan wees, om drome te droom en visioene te sien. Wat ’n ongelooflike ervaring moet dit nie wees nie, maar in Joël se tyd beleef Juda ’n tyd van rampe in plaas van drome, droogte in plaas van visioene.

Verder het ‘n groot sprinkaanplaag die hoofsaaklik landbou ekonomie van die land ernstig aangetas. Wingerde het verdor, die veld is verwoes en die boere weeklaag oor die gars- en koringoes wat op die land verlore is. Selfs die geharde olyfbome kry swaar sodat daar geen olie geoes kan word nie. Dit is so erg dat die godsdienstige rituele ook skade ly omdat daar niks is om aan God te offer nie.

Dan kom die oproep van God dat die volk hulle harte moet skeur en nie hulle klere nie en hulle tot Hom moet bekeer. Nie uiterlike vertoon nie, maar hartgrondige bekering. Wanneer hulle dit doen is die beloftes wat God aan hulle maak soveel groter as die rampe wat hulle getref het.

In die ou bedeling was die Gees nie afwesig nie, maar sy werk is meesal beperk tot mense wat vir ‘n spesifieke doel geroep en toegerus is. In Numeri 11:29 is Moses se versugting: “Ek sou wou wens dat die hele volk van God profete was en dat Hy sy Gees op almal mag lê.” En nou in Joël word dit belowe en in Handelinge ‘n voldonge feit en ons almal word profete, dromers en mense wat visioene sien.

Julle sal krag ontvang as die Gees op julle kom belowe Jesus sy volgelinge en hoe waar het dit nie geword nie en die jong kerk van Handelinge het gedroom en visioene gesien van die boodskap van Jesus wat oor die hele wêreld verkondig sou word en van mense in hulle duisende wat die boodskap aanneem en verlos word van die dood. Hulle word almal profete met die Woord van God in hulle monde en die krag van sy Gees in hulle harte.

Droom ek nog dieselfde droom, blink my oë nog van die visioen om die hele wêreld vir Christus te wen en is ek elke dag sy profeet wat die Woord suiwer laat klink?

Gebed: Here help my asseblief dat ek nie deur die lewe se baie eise bang en kragteloos sal word en my drome vir die koms van sy koninkryk nie sal verloor nie.  Amen