Ben Fourie

“En jy, kindjie, ‘n profeet van die Allerhoogste sal jy genoem word, want jy sal voor die Here uitgaan om sy pad gereed te maak.” Lukas 1:76

Die Nuwe Testamentiese Elia, so beloof die engel aan Sagaria oor die seuntjie wat vir hom en sy vrou Elizabeth gebore sou word, die padmaker vir die Messias volgens profetiese voorspellings in Jesaja 40:3 en Maleagi 3:1. ‘n Vreemderige, asketiese woestynmens met sy kameelhaarjas, sy ongewone spyskaart en sy geheelonthouding en tog reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul (Lukas 1:15). Hy sou sterf aan die hand van koning Herodes om ‘n verwende jong vrou en haar ma tevrede te stel.

Oor hierdie spesiale gawe van God wat sy vrou verwag het (Sagaria en Elizabeth was al op gevorderde leeftyd), sing Sagaria vol van die Heilige Gees ’n loflied. Liedere in die Ou Testament het dikwels ’n spesifieke samestelling gehad wat gepas het by die digter en die geleentheid waarvoor dit geskryf is. Sagaria was ’n priester en hierdie lied pas in by die priesterlike styl. Dit val in twee dele uiteen. Vanaf vers 68 tot 75 besing Sagaria die lof van die God van Israel en in die tweede gedeelte profeteer hy oor die doel van die seuntjie se roeping.

Sy groot werk sou wees om die pad vir Jesus se koms en boodskap voor te berei. Jesus se groot taak was om deur sy kruisdood mense te verlos en dit is presies wat Johannes moes verkondig sodat die grond reg voorberei sou wees vir die saad van Jesus se bediening. In vers 77 profeteer Sagaria: “…om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel: verlossing deur vergifnis van sonde.” Johannes se prediking gaan hoofsaaklik oor bekering en barmhartigheid en so kragdadig is dit dat mense van oraloor af stroom om deur hom gedoop te word. Mense het al begin bespiegel of hy nie dalk die Christus is nie, maar hy plaas dadelik die klem waar dit hoort: ”…maar my meerdere kom en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie.” Nie ek Johannes nie, maar Jesus wat sal kom.

Gebed: Vader, maak my ook soos Johannes die Doper, laat my eie ek in die agtergrond verdwyn sodat Jesus al meer in die kollig kan kom.