Ben Fourie

“Geseënd is die wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Matteus 5:3 (BDV)

Vanaf Matteus 5 gaan Jesus se prediking ’n nuwe fase binne. In vers 2 lees ons dat Hy nou begin om sy taak as leermeester te doen. Hy word dus nou werklik Rabboenie. Sy volgelinge moet verstaan waaroor sy leer gaan. In hoofstukke 5 tot 7 lewer Hy sy grootse “bergrede” waartydens Hy verduidelik hoe die wet wat hulle as Jode baie goed geken het, geleef moes word. Sy woorde is nie soseer oor oortredings van die wet nie, maar gerig teen skyngehoorsaamheid soos die Bybel met Verklarende Aantekening dit baie goed stel. Sy koms is nie om die wet af te skaf nie, maar om inhoud daaraan te gee.

Die bergrede begin met agt sogenaamde “saligsprekinge”. Die negende “salig” in vers 11 het ’n ander inslag en toonaard. Die woord “salig” word in die 1983-vertaling en "Die Bybel: 'n Direkte Vertaling" met “geseënd” vertaal. Dieselfde begrip kom in Psalm 1:1 voor en word met ”gelukkig” of “dit gaan goed met” vertaal. Die woord beteken na my mening iets van al bogenoemde. Ons is geseënd en in ons hart gelukkig en dit gaan goed met ons wanneer dit nie oor die letter van die wet gaan nie, maar oor die God agter die wet en dit kom tot uitdrukking in die agt dinge wat Jesus sê.

Om gelukkig voor die Here te wees is as ek diep binnekant weet ek is nie regtig so wonderlik soos wat ek dalk dink ek is nie, dat ek weet dat ek verkeerd doen, dat ek kaal en arm voor God staan. Geluk is die rou huil oor my sonde, want dan wag die troos. Geluk is nie wanneer ek die geveg gewen het en my lewensmaat, my kind, my ondergeskikte, die onderspit laat delf het nie. Geluk is om ter wille van die vrede die minste te wees en so kan ons voortgaan met al agt. Geluk is daar waar die regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie en waar ons altyd eers die koninkryk van God sal soek, want dan sal ons werklik saligheid ervaar.

Gebed: Help ons om so te leef dat ons ook u saligheid elke dag kan beleef.