Ben Fourie

“Al praat ek die tale van mense en engele …” 1 Korintiërs 13: 1

Met hierdie ingehoue versmaat begin Paulus die gedig oor die heel belangrikste aspek van die Christelike lewe. Die liefde. ‘n Mens behoort  eintlik hierdie hele hoofstuk hardop te lees om die boodskap soos deur die uitsonderlike ritme gedra word, werklik te waardeer.

Tydens die viering van die vyf-en-sewentigste bestaansjaar van die Afrikaanse vertaling van die Bybel in Bloemfontein ‘n paar jaar gelede, was ’n sekere professor die hoofspreker van die aand. Tydens die voorlees van sy curriculum vitae is genoem dat hy gedurende sy akademiese jare nogal bekend was dat hy maklik aan studente wat na sy mening nie goed gedoen het nie, ’n nul as punt toe te ken. Een dag was ’n student se werk van so ’n swak gehalte dat hy vir hom gesê het dat selfs ‘n nul te goed was en daarom het hy vir sy werk ’n “niks” toegeken as die swakste moontlike punt.

Elke keer as ek 1 Korintiërs 13 lees is hierdie staaltjie in my agterkop, want Paulus skryf in vers 2 dat al is ek die beste prediker, al is ek hoe slim en vol kennis en al het ek selfs berg verskuiwende geloof, is ek sonder die liefde totaal en al niks.

Hoe verskriklik om slegter as ’n nul te wees.

Juis daarom is die grootste gebod wat deur Jesus in Markus en ander Evangelies genoem word die van die liefde: ”Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag en jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Al het die hele Bybel net uit hierdie paar woorde bestaan, sou dit genoeg wees.

Al ons gepraat en redenasies oor teologiese begrippe en dogmas en wie reg is en wie verkeerd is, sal op die ou end onder die vergrootglas van die liefde geplaas word. Niks meer nie en niks minder nie.

Gebed: Here ek bely dat ek op hierdie terrein ook 'n nikspunt verdien. Dankie, dat U my egter so liefhet dat ek deur u genade die ewige lewe kan hê.  Amen