Ben Fourie

“Die Gees en die bruid sê: Kom! En elkeen wat dit hoor moet sê: Kom! En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet! … Ja, Ek kom gou! Amen! Kom, Here Jesus!” Openbaring 22:17 en 20

Openbaring is ‘n boek vol liedere, spreekkore wat optree en besondere dele in versvorm soos die hierbo. Wat ’n ongelooflike klimaks tot die grootse verhaal van God se bemoeienis met die mens vanaf Genesis tot by die wederkoms.

In Romeine 8 skryf Paulus oor die skepping wat “sug in die pyne van verwagting” want alles is nog vasgevang in wat hy die “verslawing aan die verganklikheid” noem. Maar dan gaan hy voort om te sê dit is nie net die skepping wat die versugting het om vry te wees van verganklikheid nie, “…maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook”. As ons met eerlikheid rondom ons kyk verstaan  ons waarom mens en skepping sug om bevryding.

Rommelhope bedreig die aarde, ons mors water op ongekende skaal, kernafval raak ‘n al groter probleem, aardverwarming se invloed is reeds op baie plekke sigbaar en ons produseer soveel plastiek dat ons oseane daaraan verstik. Draai ons die oog binne toe is gebrek aan moraliteit, eerlikheid en integriteit oral sigbaar. Misdaad op voetsoolvlak maar ook op die mees gesofistikeerde witboordjie vlak raak elke mens. Ons gee dikwels so min om vir die aarde en die diere en mense met wie ons die aarde deel dat ons die roeping waartoe God ons geroep het totaal misloop. Daarom sug ons en die aarde.

Tog sê die Bybel kom daar ’n tyd waar dit baie beter sal gaan en dit is na hierdie tyd wat die Gees en die kerk in Openbaring roep: “Kom, Here Jesus!” Die gelowiges in 90 nC. toe Openbaring geskryf is, het ontsettende vervolging onder die Romeinse keisers gely en het gedors na verlossing uit hierdie verganklikheid. Jesus se uitnodiging is dan juis dat hierdie dors geles sal word, heeltemal verniet. En so ook ons s’n. En dit is nie maar net “hemelpastei” soos Ferdinand Deist die bekende “pie in the sky when you die” vertaal nie, dit is genadekos, dit is wat die opskrif by die gedeelte uit Romeine beteken as dit sê: “Die heerlikheid wat kom.”

Gebed: Dankie, dat ons kan uitsien na ‘n nuwe hemel en ’n nuwe aarde met onbeperkte lewenswater wanneer Jesus weer kom. Amen