Deur Benescke Janse van Rensburg

Amy-Leigh. Dié naam het in bykans elke gesprek waarby ek betrokke die afgelope 24 uur betrokke was êrens opgeduik. Aanvanklik was die gesprekke gevul met vrees en skok oor die 6-jarige bruin-oog dogtertjie wat Maandagoggend voor haar skool in Vanderbijlpark ontvoer is. Terwyl al die moontlike gedoen is deur die polisie en die De Jager-familie om Amy-Leigh terug te vind, het ’n groot klomp mense op sosiale media laat hoor dat hulle bid dat God sy engele sal uitstuur om Amy-Leigh veilig te hou en dat sy spoedig teruggevind sou word.

Teen gisteroggend 02:00 was Wynand and Angeline de Jager, Amy-Leigh se ouers, steeds by die polisiekantoor – wagtend vir enige nuus van hulle kind. Wynand het buitentoe gestap om vars lug te kry, toe hy twee volwassenes met ’n kind by hulle na die polisiekantoor aangestap sien kom. Dit was Amy-Leigh! Die ontvoerders het haar minute vantevore by ’n winkelsentrum afgelaai en weggejaag. Toe sy huil en skree, het die volwassenes tot haar redding gekom en haar na die polisiekantoor vergesel.

Het God die gebede landwyd gehoor? Ek is oortuig daarvan. Is daar situasies waar mense ook bid, maar nie so ’n gelukkige einde beleef nie? Ongelukkig, ja. My hart breek elke keer as ek hoor van families wat ’n liggaam van ’n geliefde moes gaan uitken.

Wat my keer op keer uit die gesprekke rondom Amy-Leigh getref het, is hoeveel ouers in ons land vir hul eie kinders se veiligheid vrees. Ek verstaan dit. Ek het myself gisteroggend betrap dat ek my eie 6-jarige dogtertjie se hand bietjie stywer vasgehou het toe ek haar by die skool gaan aflaai. Wat ons egter moet besef, is dat God in beheer bly. Hy beskerm ons kinders wanneer ons nie daar is om dit te doen nie. Hulle behoort immers aan Hom en is net aan ons as ouers geleen.

Mag ons onsself herinner aan die woorde in Psalm 91:9-11: “Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref . . . Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. . .” Ook in Psalm 91:14-15 lees ons: “‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,’ sê die Here, ‘omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.’”

Ek kan nie help om te wonder wat weens al die gebede wat vir klein Amy-Leigh opgegaan het in die geesteswêreld gebeur het nie. Was daar engele wat haar beskerm het? Was die volwassenes daar geposisioneer om haar na veiligheid te begelei nadat sy vrygelaat is? Was haar pa buitekant die polisiekantoor sodat hy haar eerste kon sien? Ja, ons leef in ’n gebroke wêreld, maar ons aanbid die Een wat steeds in beheer van ons lewens en ons toekoms bly! Mag ons, ons oë altyd Hom hou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U steeds my (en my geliefdes) se Beskermer is. Help my om nie toe te laat dat vrees my lamlê nie, maar om telkens te kies om my geloof in U te plaas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien foto van Amy-Leigh op die Stories van Hoop bladsy op Facebook of by www.benescke.co.za
  • Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir my 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.). Groete, Benescke