Deur Benescke Janse van Rensburg

Neom. Dít is die naam van die futuristiese stad in Saoedi-Arabië waaraan bouwerk onlangs begin is. Met die bekendstelling van die projek, wat gereken word as die "wêreld se mees ambisieuse projek" tot op hede, is genoem dat daar onder meer beplan word aan 'n eiland met robot dinosourusse, 'n strand wat in die donker gloei, 'n kunsmatige maan en ook vlieënde motors.

As 'n mens vir die eerste keer van Neom hoor, klink dit amper te goed om waar te wees. Hoe op dees aarde kan 'n mens 'n land binne 'n land bou? Of 'n woestyn in 'n wonderwêreld omskep? Hierdie Neom-droom het geverg dat een persoon (of dalk 'n groep mense) moes uitstap om die onmoontlike op te droom. Nou, met verloop van tyd en toenemende video- en fotovoorstellings van hoe Neom behoort te lyk, word dit 'n al groter realiteit – 'n mens begin selfs uitsien na wat binnekort 'n realiteit behoort te wees.

In ons eie lewens veroorsaak uitdagings soms dat 'n area soos 'n woestyn kan voel – 'n huwelik waarin konstant baklei word; 'n gesondheidstoestand wat jou liggaam daagliks laat verswak; finansies wat beroerd lyk; of dalk 'n reusagtige uitdaging by die werk. Te midde hiervan benodig ons ook soms 'n "Neom"-oomblik – 'n oomblik waarin ons kyk na die realiteit, maar in ons geestesoog die uitkoms visualiseer.

In Hebreërs 11:1 lees ons: "Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie." En in Matteus 19:26 sê Jesus: "Vir mense is dit onmoontlik, maar nie vir God nie, want vir God is alles moontlik."

Wat is daardie woestynagtige areas in jou lewe? Trek jou pen en papier nader en begin neerskryf hoe jy graag wil sien dat God die situasie verander. Wat vandag vir jou onmoontlik lyk, mag dalk môre iets word waarna jy uitsien – nie omdat jy dit 'n werklikheid kan maak nie, maar omdat jy die Een aanbid wat spesialiseer daarin om die onmoontlike moontlik te maak. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U groter is as die hier en nou. Help my om my oe op U te hou en uit my gemaksone te stap om U te vertrou vir die deurbrake wat tans onmoontlik voel. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke