Deur Benescke Janse van Rensburg

In die lig van die afgelope week se nuusberigte, het ek met Peter Kotze 'n onderhoud gedoen. Peter het sy doktorale tesis in Teologie rondom mensehandel gedoen en vir vier jaar spesifiek saam met die Save Them en die National Freedom Network gewerk om ontvoerde kinders terug te vind, asook diegene wat in mensehandel vasgevang is, te bevry. Hier is een van sy getuienisse wat my diep getref het: 

Dit was 'n reënerige aand toe Peter en sy span die 11-jarige Joyce (nie haar regte naam nie) vir die eerste keer ontmoet het. Sy is na 'n veiligheidshuis gebring nadat sy daarin geslaag het om te ontsnap.

As 4-jarige blouoog, blondekop dogtertjie, is Joyce uit haar ouers se erf waar sy gespeel het ontvoer. Vir die volgende 7-jaar is sy in 'n kamer sonder vensters aangehou en "uitverhuur" aan mans wat soms die mees onmenslike dinge aan haar gedoen het. Soveel so dat sy met tye haar eie lewe wou neem. 

Alhoewel Joyce 'n emmer in haar kamer gehad het wat sy as toilet moes gebruik, vertel sy hoe sy op die dag van haar ontsnapping ervaar het dat “iets” vir haar sê om die mans te vra of sy die toilet in die huis kan gebruik. Hulle het haar toegelaat. Dáár het “iets” weer vir haar gesê om na die venster te kyk. Dit was oop en daar was nie diefwering op nie. Joyce het uitgespring en begin hardloop. In 'n parkeerarea 'n ent weg, het sy in 'n veiligheidswag vasgehardloop. Sy het om vertel wat aangaan en hy het dadelik geweet wat om te doen. Twee ure later was Joyce in die veiligheidshuis. 

Daardie aand het dit begin reën. Vir die eerste keer in sewe jaar het Joyce reën gesien. Sy het uitgestap en met opgesteekte hande in die lug begin sing: “Hoe groot is ons God... Hoe groot is ons God...” Op die vraag hoe sy van God weet, het sy geantwoord: “In daardie donker kamer, het ek baie gehuil. Dit is hier waar 'n man aan my verskyn het wat my getroos het. Hy het my  veilig laat voel. Sy naam is Jesus.”  

Keer op keer het Peter en sy span soortgelyke stories gehoor wanneer hulle kinders uit die donker situasies red – Jesus was daar om hul te beskerm.

In Markus 10:14 lees ons Jesus se reaksie toe sy dissipels kwaai praat met die ouers  wat hul kinders na Hom wou bring: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle." Ook in Psalm 147:3 lees ons: “Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde.” (1953-hersiening) 

Breek dit God se hart as Hy sien wat met die kinders in ons land gebeur? Was dit die Heilige Gees wat Joyce gehelp ontsnap het? Was dit Hy wat die regte sekuriteitswag op die regte plek geplaas het om haar na veiligheid te begelei? Ek is oortuig daarvan.

God is in staat om enige seer, vernietigende seisoen in ons lewens om te draai. Ná intense rehabilitasie is Joyce permanent met haar gesinherenig. Vandag bestuur sy haar eie klein besigheid van haar ma se huis af. Steeds getuig sy van God se goedheid. Mag ons onthou dat God ook by ons is. Hy weet van ons seer en Hy wil ook jou gebroke hart genees en jou wonde verbind. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir elke kind wat uit aanhouding kon ontsnap. Ek wil spesifiek bid dat U elkeen sal versterk wat nog nie so gelukkig was nie. Help my asseblief ook om te weet dat U in elke situasie in my eie lewe teenwoordig is. Ek vra dit in die Naam van van Jesus Christus. Amen.  

• Sien foto van Peter Kotze op die Stories van Hoop bladsy op Facebook of by www.benescke.co.za.

• Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke