Deur Benescke Janse van Rensburg

“So, hoe het jou lewe verander sedert jy by die nagskuiling aangekom het?” Dit was ’n gewone vraag aan die 24-jarige Rodelle wat voor my gesit het. My radioprogram in die Kaapse Skiereiland het dié Woensdag by die nagskuiling uitgesaai. As jong kind is Rodelle aan geweld en ander verskriklike dinge in haar ouerhuis blootgestel wat geen kind moet sien nie. Op 16-jarige ouderdom het sy begin dwelms gebruik. Later het sy ’n dwelmhandelaar geword om haar gewoonte te voed. Uit totale radeloosheid het sy ’n tydjie gelede by die nagskuiling opgedaag – ’n skuilplek waar die bestuurders uitverkoop is vir Jesus Christus en die sentrum ook só bestuur.

Vir ’n oomblik het Rodelle diep gesluk voordat sy my in die oë kyk en met trane wat oor haar wange stroom antwoord: “By die nagskuiling het ek vir die eerste keer ’n ‘normale lewe’ kom smaak. Ek het soveel verwoesting in my lewe, maar ook soveel ander vir wie ek dwelms verkoop het, gesaai dat ek gedink het God sal my nooit kan vergewe nie. Met my ontmoeting met Jesus Christus, het ek besef dat Hy gesterf het om my ook vry te maak. Sy genade is onbeskryflik groot.” Haar rou eerlikheid het my diep getref.

In Psalm 103:12 lees ons: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Ook in 2 Korintiërs 5:17 staan geskryf: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

Die vyand steel, slag en verwoes, maar Jesus het gekom sodat ons ’n lewe in oorvloed kan beleef. Hy het gekom om blindes te laat sien, dowes te laat hoor, lam mense te laat opstaan, maar Hy het ook gekom om diegene met gebroke harte en lewens te kom vertroos. Steeds vandag buig Hy af en fluister in ons ore: “Dis ok. Staan op. Kom ons probeer weer.”

Mag ons in ons donkerste oomblikke onthou dat Hy nie verander nie en dat Hy ook gekom het om vir ons ’n “normale lewe” te gee en ’n lewe waarin ons oorvloed smaak. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U onbeskryflike genade. Help my asseblief om vry te leef omdat Jesus Christus vir my die prys betaal het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

• Sien foto’s van Rodelle op Stories van Hoop bladsy op Facebook of by www.benescke.co.za

• Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir my 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.). Groete, Benescke