Deur Benescke Janse van Rensburg

Die hofverrigtinge op Vanderbijlpark die afgelope Maandag het weer die land aan die praat gehad. Vir die eerste keer is foto’s van die blonde skooljuffrou gepubliseer. Sy is gearresteer en as die baasbrein agter die ontvoering van die 6-jarige Amy-Leigh uitgewys.

Binne en buite die hof was daar trane. Op sosiale media het die veroordelings, skinderpraatjies en selfs oningeligte gevolgtrekkings my nogal geskok. Wat my egter diep geraak, is die foto van Amy-Leigh se oupa wat die gearresteerde juffrou se snikkende pa (66) op die trappe buite die hof omhels. Dié foto is geneem minute nadat die juffrou se pa Amy-Leigh se familie, die gemeenskap en selfs die land om verskoning gevra het oor wat gebeur het.

Ek kon nie help om myself vir ’n oomblik in die man se skoene te plaas nie - ‘n bejaarde man wie se lewe ingrypend verander het sonder dat hy enige hand daarin gehad het. Hoe sou ek wou hê moes mense om my die situasie hanteer? Sou die onsensitiewe veroordelings my seergemaak het? Hoe sou ek voel as ek na my eie kind in die beskuldigde bank moes kyk?

In Matteus 7:5 sê Jesus: “Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal.” Ook in Johannes 8:7 lees ons van die vrou wat in owerspel betrap is wat na Jesus gebring word. Volgens die wet moes sy doodgemaak word, maar hulle wou Jesus se opinie oor die saak toets. Sy reaksie skok hulle wanneer Hy sê: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi.Een na die ander Fariseër het die klippe neergegooi en weggestap.

Die ontvoering was verkeerd en geregtigheid moet geskied. Tog, mag ons onthou dat God die Regverdige Regter is en nie ons nie. Mag ons die volgende keer wanneer ons weer verlei word om deel te neem aan skinderpraatjies of ‘n oordeel wil fel oor die moeilike kollega by die werk, die humerige buurvrou of slordige man in die ry voor ons, onsself ‘n slag in die betrokke persoon se skoene plaas.

Kom ons los die klippe en verwyder die balk eers uit ons eie oë. Kom ons as gelowiges bring lig en sout na die wêreld rondom ons wat dit so geweldig nodig het. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U genade wat U aan my bewys. Help my om dieselfde aan ander rondom my te bewys deur ’n wag voor my mond te plaas eerder as om deel te neem aan skinderpraatjies of afbrekende gesprekke. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

• Sien foto van Amy-Leigh se oupa wat die gearresteerde juffrou se pa omhels by www.benescke.co.za of op Stories van Hoop op Facebook.

Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir my 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het (This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.).