Deur Benescke Janse van Rensburg

Onlangs lees ek ’n gesegde raak wat my diep laat dink het:

“Wanneer iemand gebroke is, moenie probeer om hulle heel te maak nie. Jy kan nie.

Wanneer iemand hartseer is, moenie probeer om hul pyn weg te neem nie. Jy kan nie.

Probeer eerder om in die pyn in liefde langs daardie persoon te kom stap. Dít kan jy doen.

Soms het mense in hul moeilike seisoen net nodig om te weet dat hulle nie alleen is nie.”

Paulus vergelyk ons gelowiges as ’n liggaam. In 1 Korintiërs 12:26-27 lees ons: “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen 'n lid daarvan.”

Met ons gejaagde lewens trap ons maklik in die vyand se strik deur só gefokus te raak op ons eie lewens dat ons nie meer die influistering van die Heilige Gees hoor wat ons bewus maak van iemand anders se nood rondom ons. Dink vir ’n oomblik na. Wanneer laas het jy uitgereik na daardie enkelma wat jy weet finansieel swaarkry? Of jou vriend wat deur ’n rowwe egskeiding gaan? Of daardie kennis wat ’n tydjie gelede met ’n ernstige siekte gediagnoseer is en tans behandeling ontvang? Wanneer laas het jy in liefde langs iemand kom stap om hulle te herinner dat hulle nie alleen is nie?

Tel gerus jou telefoon op en stuur daardie Whatsapp. Stop by die hospitaal en gaan bid saam met daardie gesin wat swaarkry. Of beter nog, verras die enkelma met ’n geldjie as jy buitengewone seëning beleef het. Kom ons word Jesus se hande en voete op aarde. As een lid ly, ly ons almal. Net so, as een lid geëer word, kan al die lede saam feesvier. Ons is die liggaam van Christus. Kom ons elkeen neem ons regmatige plek in. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U genade en liefde vir my elke dag. Lei my deur u Heilige Gees om ’n instrument in U hand te wees. Wys my waar daar ’n nood is en lei my met wysheid om te weet hoe ek dit kan verlig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels. Gee terugvoer oor die reeks of deel jou getuienis van waar jy God se grootheid beleef het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.