Deur Benescke Janse van Rensburg

Dubbelsdirigent. Dít is hoe die Suid-Afrikaanse tennisafrigter, Jeff Coetzee gedoop is na sy onlangse suksesse op die tennisbaan. Jeff was self ’n professionele tennisspeler wat tot nr.12 op die wêreldranglys gevorder het, voordat sy loopbaan weens beserings in 2012 beëindig is.

Nadat Jeff uitgetree het, het sy liefde vir tennis nie verdwyn nie en toe hy ’n jaar of wat later die geleentheid kry om ’n dubbelspelpaar van Colombia af te rig, het hy dadelik ingestem. Juan Sebastian Cabal en Robert Farah was toe onderskeidelik 26 en 25 jaar oud. Alhoewel hul in hul eie land naam gemaak het, was hul steeds in wêreldtennis redelik onbekend.

Gou het Jeff besef dat hierdie twee jongmanne se werksetiek anders as sy perfeksionistiese gedrewe ingesteldheid is. Hy het ’n na professionaliteit gesmag en dat hulle die geleentheid in hul hande moes raaksien. Hy het besluit om die twee manne voor ’n keuse te plaas: Hulle gaan in die toekoms óf terugkyk en spyt wees oor wat hulle amper bereik het, óf hul gaan in dankbaarheid terugkyk op wat hul wel met harde werk, toegewydheid en dissipline bereik het. Sy skerp woorde het inslag gevind en die twee Colombiane se uitkyk op tennis het begin verander. Hulle het hard gewerk – gedissiplineerd en met toewyding.

Ná vyf jaar saam met hul nuwe afrigter, het die harde werk dubbeld en dwars begin vrugte afwerp. Slegs in hierdie jaar het die dubbelspelpaar koning gekraai by die Wimbledon tennistoernooi, die Australiese Ope, die Eastbourne-titel en die kleibaankrone in Barcelona en Rome. Cabal en Farah beklee tans die nr. 1-posisie op die wêreldranglys vir dubbelspelpare. Hulle is ook die enigste span wat reeds vir die Jaareindtoernooi in Londen gekwalifiseer het.

In Spreuke 14:23 lees ons: “Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.” En in Hebreërs 11:1 staan geskryf: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

In ons lewens hunker ons ook na deurbrake. Dit kan wees vir ’n bevordering in ons loopbaan, om ’n eie besigheid te vestig, om finansieel uit die skuld te kom, vir ’n geliefde se bekering, vir die herstel van ’n huwelik, om swanger te word of om ’n huweliksmaat te vind. Wat is jou reaksie in so ’n  wagtyd? Hou jy aan om God se aangesig gedissiplineerd en met toewyding te soek? Plaas jy ’n wag voor jou mond om niks negatiefs oor die saak te praat nie? Gebruik jy jou geestelike wapens? Staan jy op God se beloftes?

Ons gaan óf eendag terugkyk en wonder of dinge dalk anders sou uitspeel as ons met meer geloof gewandel het óf ons gaan met oorweldigende dankbaarheid terugkyk en getuig van God se grootheid in ons lewens.

Kom ons slaag die toets. Kom ons bly gedissiplineerd en soek God se aangesig. Al neem dit tyd, daardie dag wat ons een na die ander deurbraak beleef is dalk nader as wat ons dink. God sluimer en slaap nooit nie en Hy hou steeds die heelal (en ons lewens) in sy hande. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek weet dat U alles in U hande vashou. Help my om positief te bly in tye wat dit voel of my deurbraak wegbly - wetende dat U deure oopmaak soos dit U pas. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Foto: Sien foto van die trio – Jeff Coetzee, Juan Cabal en Robert Farah by www.benescke.co.za of op Stories van Hoop op Facebook.
  • Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir ons 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..