Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Leser skryf onlangs: “Ek sukkel om te glo dat God ’n plan met my lewe het. Kan jy help?” Ek deel graag met jou ’n kort deel van Ilse Kleyn, Kaapse kunstenaar, se getuienis wat my diep geraak het – en hopelik ook dié vraag kan help beantwoord:

Rondom 20:00 die aand het Ilse se ma, Delene aan hulle voordeur kom klop. Sy het ’n dringendheid in haar hart ervaar dat hulle so gou moontlik by die baba in ’n nabygeleë plakkerskamp moes uitkom. Vroeër daardie dag het sy geskok na foto’s gekyk van die baba wat ’n kollega by die werk vir haar gewys het.

Ilse se eerste reaksie was: “Wie stap 20:00 in die aand in ’n plakkerskamp in om aan ’n onbekende se deur te gaan klop en te vra om haar baba te sien?” Haar ma was egter oortuig dat sy die stem van die Heilige Gees gehoor het.

Met hulle aankoms by die plakkershut was die baba totaal gedehidreer. Dit het gelyk asof die ma van die kind, wat as prostituut werk, vergeet het om die kind vir 24 uur iets te ete of drinke te gee. Hulle het dadelik met die kind hospitaal toe gejaag. Dáár het die dokter gesê dat indien hulle twee ure later daar sou wees, die kind dit moontlik nie sou maak nie. Die babaseuntjie was reeds naby aan ’n koma.

’n Intense ingrypingsproses saam met maatskaplike werkers is gevolg om die kind na ’n plek van veiligheid te bring. Na nog ’n lang proses het Ilse en haar gesin eindelik daarin geslaag om die klein blondekop, blouoog seuntjie, Johannes as hul eie kind aan te neem. Vandag gaan dit goed met hom. Hy is nou 6 jaar oud en het in verlede jaar die rol van Racheltjie de beer se boetie in die film, Racheltjie de beer vertolk.

In Psalm 139 lees ons dat God van ons elkeen weet: “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. . .” In Jesaja 49:16 sê God self: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. . .” Ook in Lukas 12:7 lees ons: “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie.”

Het God die verwaarloosde seuntjie in die plakkershut gesien? Het dit Sy hart gebreek? Het Hy die gebede gehoor van Violet – ’n vrou in die plakkerskamp wat vroeg reeds die situasie opgesom het en Johannes se ma oortuig het om nie ’n aborsie te doen nie omdat sy hom sal “koop” net sodat hy bly leef? Verseker.

God het ’n plan met elkeen van ons se lewens. Hy is vir ons almal ewe lief. Net soos Hy ’n groter plan met Johannes se lewe het, het Hy ook ’n plan met ons elkeen se lewe. Kom ons vertrou Hom om dit tot uitvoer te bring. Sterkte.  

Vader God, baie dankie dat elke mens op aarde vir U belangrik is. Help my asseblief om opnuut bewus te word van U aanvaarding en beskerming in my eie lewe. Ek vra dit in Jesus Naam. Amen.

  • Sien foto van Ilse en Johannes by www.benescke.co.za of op Stories van Hoop op Facebook.
  • Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir ons 'n e-pos te stuur en sommer ook te getuig oor hoe jy God se genade in jou lewe ervaar het by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..