Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Vrou vertel my onlangs watter geweldige skok dit vir die hele familie was die dag toe haar ma met kanker gediagnoseer is. Soos haar ma swakker geword het, het sy al dieper in die donker gat van depressie begin val. As gesin moes hulle ingryp, maar hul het nie geweet hoe nie. Die vrou hoor toe van ’n Dankbaarheidsjoernaal wat vir iemand in ’n soortgelyke situasie baie gehelp het.

As volwasse kinders het hulle met haar ma gaan sit en vir haar die joernaal oorhandig. Hulle “opdrag” aan haar was om elke dag ten minste een ding neer te skryf waarvoor sy dankbaar is. Dit kan enigiets wees - groot of klein. Die vrou getuig dat hul na daardie dag ’n duidelike verandering in haar ma se gemoedstoestand kon optel.

Ná haar ma se dood moes die kinders haar huis gaan oppak. Hier het sy die Dankbaarheidsjoernaal gevind. Sy vertel hoe sy gesit en huil het toe sy deur die boek blaai. Sommige dae was daar letterlik net een ding wat haar ma neergeskryf het. Byvoorbeeld haar ma is dankbaar dat haar kind kom kuier het of dat sy ’n paar minute in die son kon sit. Ander dae was haar ma duidelik op ’n goeie plek aangesien sy sommer ’n klomp goed neergeskryf het.

Die vrou se slotsom was dat dankbaarheid die teenpool vir depressie, onvergenoegdheid en enige ander donker emosie is wat mag dreig om ’n mens te oorweldig.

In 1 Tessalonisense 5:18 lees ons: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Wanneer ons dankbaarheid kies, kies ons om te soek na die mooi, goed en positiewe dinge wat God daagliks rondom ons plaas. In sulke oomblikke is dit asof God se lig die duister wat ons wil oorweldig begin verdryf.

Kom ons kry daardie joernaal en maak dit ’n gewoonte om daagliks dankbaarheid te kies. Al is dit daagliks net een ding - daar is altyd iets om voor dankbaar te wees! Sterkte.

Vader God baie dankie dat ek aan U mag behoort. Help my asseblief om my negatiewe bril af te haal en U raak te sien rondom my. Help my om met dankbaarheid te leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.