Deur Benescke Janse van Rensburg

Die Yellowstone Nasionale Park in Amerika het in 1995 ’n interessante navorsingstudie onderneem. Hulle het besluit om 14 wolwe in die park vry te laat en die effek daarvan te monitor.

Die wolwe het dadelik die bokke begin jag (waarvan daar heeltemal te veel was). Die getalle het begin afneem en terselfdertyd het die bokke sekere areas in die park begin vermy. Dít het veroorsaak dat sekere blomme en plante opnuut begin bot het.

Saam met die toenemende bome en bosse, was daar skielik meer bessies en goggas wat interessante voëlspesies gelok het. In die riviere is bewers opgemerk wat vroeër uitgesterf het in die omgewing. Die bewers het damme gebou wat otters en ander reptiele gelok het.

In ’n kort tydjie, met meer balans tussen roofdier en prooi, het die hele ekosisteem ten goede begin verander. Daar was minder erosie en meer spesies het floreer.

Ons eie lewens kan met die park vergelyk word. As dit té goed gaan, loop ons die gevaar om te stagneer. Teenstand, moeilike seisoene en uitdagende gebeure (soos die roofdiere), is daar om ons geloof en karakter te laat groei. Dit vorm ons.

In Jakobus 1:2-3 lees ons: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” In Romeine 5:3-5 staan geskryf: “Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.” En in Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. . .”

Is dit God wat slegte dinge oor ons pad bring? Nee. Hy is ’n goeie Vader wat planne van voorspoed en nie teëspoed vir ons beplan nie. Ons leef egter in ’n gebroke wêreld met ’n vyand wat ons wil vernietig. Wat ons wel kan weet is dat Jesus Christus reeds die bose oorwin het. Juis hierom kan ons met selfvertroue leef.

Gaan jy tans deur ’n moeilike, uitdagende tyd? Mag ek jou aanmoedig om dit nie as ’n struikelblok te sien nie, maar as ’n geskenk. Dit is juis in hierdie tye dat ons iets van God se karakter ontdek wat ons dalk sou mis as dit net goed gegaan het. God is steeds in staat om alles ten goede te laat meewerk. Hy dra ons. En wanneer ons swak is, bly Hy sterk. Sterkte.

Vader God baie dankie vir die goeie en slegte tye in my lewe. Help my asseblief om nie mismoedig te raak in moeilike tye nie, maar eerder die geskenk raak te sien om U beter te leer ken en te beleef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

· Sien ’n video van die Yellowstone Park se eksperiment by www.benescke.co.za of op Stories van Hoop op Facebook.

· Terugvoer: Jy as leser kan saamgesels deur vir ons 'n e-pos te stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus jou getuienis oor waar jy God se genade in jou lewe ervaar het.