Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek wil die September-reeks afsluit met ’n storie wat ek onlangs gelees het:

’n Jong, dinamiese bankklerk is as die opvolger van ’n uittredende bankbestuurder aangewys. Met die besef dat hy redelike diep spore sou moes volstaan, het hy na die uittredende bankbestuurder se kantoor gestap.

“Kan ek u ’n vraag vra?” het hy begin. Die uittredende bankbestuurder het geglimlag en met sy hand gewys dat die jongman moes kom sit. Die jongman het ’n oomblik geaarsel: “Wat het dit geneem om die sukses te behaal wat u het?” Die bankbestuurder het onmiddellik geantwoord: “Regte besluite.” Weer het die jongman gevra: “Hoe het u geweet wat die regte besluit was?” Weer het die bankbestuurder vinnig geantwoord: “Ervaring”. Daar was ’n frons op die jongman se gesig: “En hoe gaan ek hierdie ervaring opdoen om die regte besluite te neem?” ’n Glimlag het om die bankbestuurder se mondhoeke verskyn voordat hy antwoord: “Verkeerde besluite.”

Soms neem ons besluite met selfvertroue. Ander kere voel dit totaal oorweldigend. Luister egter na hierdie drie beloftes:

  • Jakobus 1:5: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
  • Jesaja 30:21: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.”
  • Jeremia 33:3: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”

Mag ons onthou dat geen verkeerde besluit só verkeerd is dat God nie iets goed daaruit kan laat kom nie? Hy het genade wanneer ons berou het. Hy gee tweede kanse. En Hy vul ons met wysheid wanneer ons ons knieë voor Hom buig en raadpleeg oor wat in die toekoms moet gebeur. Hy is immers reeds daar. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U almagtig en in beheer van my lewe en die toekoms is. Lei my asseblief (noem area in jou lewe waar jy wysheid benodig). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Terugvoer: Het jy die reeks geniet? Stuur asseblief terugvoer na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor.