Louise Gevers

Hy het sy bokleed net daar gelos en opgespring en na Jesus toe gegaan. Markus 10:50

Toe ek op universiteit was, was daar 'n blinde student wat regte gestudeer het en wat deel van ons daaglikse lewe geword het. Hy het elke dag rondgestap en met sy wit kierie voor hom uitgetik om sy weg te voel en met 'n bandopnemer onder die arm om sy lesings mee op te neem. Ten spyte van sy gesiggestremdheid was hy besonders onafhanklik en in staat om vir sy gekose beroep te studeer.

Bartimeus, die blinde man waarvan ons in Markus 10:46-52 lees, was nie in so 'n posisie nie. Alhoewel dit sy lot was om langs die pad te sit en bedel, was dit egter ook waar hy alles van Jesus en die genesings wat Hy uitgevoer het, gehoor het. Deur dit wat hy gehoor het, het hy begin om te glo dat Jesus die Messias is. Hy het daar gesit en bedel toe Jesus, sy dissipels en 'n skare mense verbykom. Onmiddelik toe Bartimeus hoor dat dit Jesus is, het hy uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my!” (Markus 10:47) Die mense het probeer om hom stil te maak, maar hy het net al hoe harder uitgeroep. Hy het die skare geïgnoreer. En Jesus het hom nader geroep.

Deur die titel "Seun van Dawid" te gebruik het Bartimeus sy hoë agting en respek vir Jesus as die Messias gewys. Sy geloof in Jesus en dat Hy hom kon help, word duidelik wanneer hy sy bokleed afgooi en sy ou lewe agterlaat. Toe Jesus hom vra: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” was Bartimeus gereed om te antwoord: “Rabboeni,” … “dat ek kan sien.” Jesus sê daarop vir hom: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.” Dadelik kon hy sien en het hy op die pad agter Jesus aan gegaan. (Markus 10:51-52) Bartimeus het onvoorwaardelik geglo en hy het nie toegelaat die iets hom stop om sy geloof in aksie te laat oorgaan nie.

Behoefte, geloof en aksie vorm konsekwent 'n dinamiese patroon in die wonderwerke wat Jesus gedoen het. Hy reageer met deernis en gesag op Bartimeus se versoek en Hy genees hom. So groot was die impak van wat Jesus gedoen het op sy lewe, dat Bartimeus uit dankbaarheid en in aanbidding Hom gevolg het. Dit het nie gebeur in Jesus se gesprekke met die Fariseërs of in plekke waar die mense min geloof in Hom gehad het nie. (Markus 6:5; Johannes 10:20) Hulle is in die geestelike duisternis gelaat.

Jesus se werk is altyd tot verheerliking van God en tot die uitbreiding van sy koninkryk en nooit om 'n punt te bewys aan 'n groep wat Hom gespot het en sy wonderwerke aan die duiwel en sy bose geeste toegeskryf het nie. "As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon." (Hebreërs 11:6)

Jesus het nie verander nie. Ons kan in die geloof na Hom toe kom en Hy sal ons vandag steeds met deernis ontvang. Hy vra steeds dieselfde vraag: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”

Gebed: Here Jesus, watter wonderlike liefde en krag ontvang ons nie deur u genade wanneer ons in die geloof iets van U vra nie. Voorsien asseblief in my behoefte en help my om die waarheid te sien. Amen