Louise Gevers

Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. Johannes 15:4-5

Verlede naweek het ons gaan appels pluk op 'n nabye plaas. Die honderde verskillende soorte appelbome in lang rye het my groot vreugde verskaf, elkeen so vol enorme, rooi, sappige appels soos ek nog nooit voorheen gesien het nie. Daar is iets bekoorliks aan ryp vrugte wat aan die takke van 'n boom hang. Dit maak die boer trots en gee plesier en dit is dus nie verbasend dat Jesus hierdie metafoor gebruik het om 'n oorvloedige lewe in Hom te beskryf nie.

" 'n Volgehoue dinamiese verhouding" som die gebedslewe op wat ons met God kan geniet. Dit vind plaas as ons aan Jesus, die wingerdstok, verbind bly en ons ryklik gevoed en lewendig word deur die voedsel wat ons deur sy Gees ontvang, net soos 'n baba in die baarmoeder lewensbelangrike voeding van die moeder ontvang. As die plasenta loskom, sal die baba nie oorleef nie. As ons die tak van die appelboom afsny, sal die vrugte stadig maar seker verdroog. Ons moet deel wees van die Wingerdstok.

Dit gaan oor 'n verhouding. As ons met God praat soos met 'n vreemdeling is ons gesprek beleef, maar ver en koud, terwyl as ons Hom ken as 'n intieme vriend wat alles van ons weet, sal ons in staat wees om met Hom op die intiemste vlak te gesels. Dit gebeur nie oornag nie. Die sleutel tot hierdie verhouding is in Jesus se woorde: "As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” (Johannes 15:7-8) Hy sal ons versoeke beantwoord want ons sal  sy leringe ken en sal nie vir dinge vra wat die werking van sy Gees in ons kan verhinder nie en wat God in 'n slegte lig stel nie. Soms, in ons begeerte vir 'n sekere uitkoms vir ons gebede, verstaan ons dit verkeerd. Selfs Jesus het in Getsemane gebid: "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” (Lukas 22:42)

Wanneer ons in ons lewe goeie vrugte dra, is dit tot eer van God, en ons groei in ons dissipelskap. Indien ons nie in Jesus is nie, kan ons niks van werklike waarde doen nie. Ons beste pogings sonder sy Gees is waardeloos. Jesus sê: "As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog." (Johannes 15:6) Het jy al ooit vars vrugte aan 'n droeë tak gesien?

In die lewens van diegene wat ander liefhet, soos Jesus ons liefhet, opofferend, sal God se eer wys in die vrugte van liefde wat hulle dra.

Gebed: Here, ek weet dat die ware lewe beteken dat ek in U leef en dat deur u Gees wat in my woon ek vrug sal dra. Dankie vir u belofte dat U in my sal bly as ek in U bly. Amen