Benescke Janse van Rensburg

Verlede Woensdag het die 28-jarige Hector Mkansi vir Nonhlanhla Soldaat na ’n KFC-kitskosrestaurant in die Vaaldriehoek uitgeneem. Mkansi was vir ’n tyd lank werkloos voordat hy onlangs weer begin werk het. Soldaat werk by ’n Hoërskool in die omgewing. Iemand het ’n video geneem van hoe Mkansi tussendeur die etery op sy knie afsak en vir Soldaat om haar hand vra. Die video het soos ’n veldbrand versprei op sosiale media. Tussen die gelukwensings was daar ook snedige opmerkings. Een vrou skryf op Twitter: “Suid-Afrikaanse mans het nie styl nie. Verbeel jou iemand vra die jawoord in die KFC. Ek sal uitloop!” 

Binne minute is dié persoon op haar plek gesit en tientalle maatskappye en individue het ingeklim om te paartjie te ondersteun. Die kitskosrestaurant het aangebied om kos vir die troue te skenk. Nog ’n maatskappy het ’n hele bees geskenk. ’n Lugredery het ’n vyf-dag wittebrood beloof en een van die banke, ’n groot bedrag geld. Bekendes het aangebied om gratis by die troue op te tree en daar was selfs ’n kruidenierswarewinkel wat R15,000 se kruideniersware geskenk het. Die lys gaan aan en aan. 

Hierdie storie het my laat dink aan Josef se woorde in Genesis 50:20 aan sy broers toe hulle in Egipte besef wie hy is: “Julle het slegte planne gemaak teen my, maar God het dit verander en Hy het dit ’n goeie plan gemaak.” Ook in Romeine 8:28 lees ons: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom lief het . . .” En in Spreuke 5:21 word ons herinner: “'n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy.

God is ’n Regverdige Regter. Omdat Hy alles sien en ook die toekoms bepaal, is Hy in staat om enige onregverdige situasie teen ons of ongegronde kritiek tot ons voordeel te verander – mits ons Hom daarmee vertrou. Wanneer Hy deurkom oortref Hy ons verwagtinge net soos hierdie paartjie wat nie kan glo wat hulle te beurt geval het nie.

Wie het jou seergemaak of te nagekom? ’n Voormalige huweliksmaat? ’n Werkgewer? ’n Skoonma? ’n Vriend of vriendin? Kom ons lê die strydbyle neer, gee ’n tree terug en vertrou dat God namens ons die stryd sal stry. Geen situasie is vir Hom te moeilik om om te draai en ten goede te laat meewerk nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek elke moeilike situasie in my lewe voor U kan kom neerlê. Ek bring spesifiek vandag (noem die situasie) na U toe. Veg asseblief namens my en bewys my onskuld en bring versoening. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien foto van die paartjie by www.benescke.co.za of
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.