Benescke Janse van Rensburg

Ons almal was al een of ander tyd in ons lewens bekommerd. Ons raak bekommerd oor ons kinders se veiligheid, die toekoms van ons land, ’n uitdaging by die werk, ’n operasie wat ondergaan moet word of selfs groot besluite wat ons toekoms kan affekteer.

Die vyand se strategie is om ons só op die bekommernisse of “reuse” in ons lewens te laat fokus dat dit al word waaroor ons dink en praat. As ons nie pasop nie word dit as’t ware afgode in ons lewens omdat dit die plek begin inneem wat vir God gereserveer behoort te wees.

Jesus het die impak van bekommernis op ons lewens verstaan. In Matteus 6:25-27,32,33 sê Hy: “Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. . . Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een enkele uur verleng? . . . Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Ook die Psalmdigter skryf oor bekommernis in Psalm 55:22: “Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.” En in Filippense 4:6-7 vind ons wenke oor hoe ons hierdie bekommernis in ons lewens beter kan hanteer:  “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Is bekommernis besig om jou te verswelg? Kom ons neem dit na God. Kom ons praat eerlik met Hom oor die “reuse” wat ons lamlê. En kom ons sê by voorbaat vir Hom dankie dat Hy die situasie namens ons sal uitwerk. Hy ken en bepaal die toekoms en slegs Hy kan ons vrede gee wat alle verstand te bowe gaan. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek al my sorge aan U kan oorlaat. Ek bring spesifiek vandag (noem die bekommernis) na U toe. Vergewe my vir elke keer wat ek toegelaat het dat dit my oorweldig in die verlede. Vul my asseblief met wysheid en onderskeiding om te weet hoe om die uitdagings te hanteer. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.