Benescke Janse van Rensburg

Hoe wys ons vir God dat ons Hom lief het? Is dit deur hordes pannekoeke by die kerkbasaar te bak of kliphard in die kerk te sing? Is dit deur nooit ’n kerkdiens te mis of ’n kleingroep te lei? Of wys ons Hom dat ons Hom lief het deur onmiddellik gehoorsaam aan Hom te wees?

Alhoewel ons weet dat God teenwoordig is wanneer ons Hom loof en prys, lees ons ’n belangrike waarskuwing raak in Amos 5. God verafsku dit as ons so gefokus raak om goeie dinge te doen om ander te beïndruk dat ons nie meer op Hom fokus nie.

Luister spesifiek na God se woorde in Amos 5:22-24: “Julle bring vir My brand-offers en koring-offers, maar Ek wil dit nie hê nie en Ek wil glad nie kyk na die vet diere wat julle bring vir ete-offers nie. Wanneer julle sing, dan is dit nie vir My mooi nie, julle raas net. Hou op sing! Ek wil nie luister wanneer julle musiek maak met ’n harp nie.” Ook in 1 Samuel 15:22 lees ons: “Wat dink jy is vir die Here die belangrikste: Dat jy brand-offers vir Hom moet bring, of dat jy doen wat Hy vir jou sê?  Jy moet dit weet: Dit is beter om gehoorsaam te wees as om te offer, dit is beter om te luister na Hom as om die vet van ramme te offer.

Hoe wys ons vir God dat ons Hom lief het? Deur ons gehoorsaamheid. Noag het dadelik begin om die boot te bou. Abraham het onmiddellik vertrek om vir Isak te gaan offer (al het die opdrag nie sin gemaak nie). En Jesus was gehoorsaam om aan die kruis te gaan sterf, al het dit veroorsaak dat Hy in die Tuin van Getsémané, bloeddruppels gesweet het. Gehoorsaamheid demonstreer ons geloof in God. Dit wys dat, al verstaan ons nie die opdrag nie, ons Hom genoeg met ons toekoms vertrou. Hy bepaal dit immers.

Wat lê God vandag op jou hart? Kom ons slaag die toets van gehoorsaamheid. Kom ons demonstreer dat ons Hom met ons toekoms vertrou. Hy bepaal dit immers. Sterkte.

Vader God, ek het U oneindig lief. Help my asseblief om onmiddellik gehoorsaam te wees - al voel die opdrag oorweldigend. Wys my asseblief ook as daar enige “dooie werke” in my lewe is waarvan ek afstand moet doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag: Kom ons ondersoek ons harte soos die Psalmdigter sê in Psalm 139 en vra God of daar iets is wat ons met ’n verkeerde motief aanpak of wat Hom nie verheerlik nie.

Sien meer voorbeelde oor gehoorsaamheid:
  o Webtuiste:  www.benescke.co.za 
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.