Benescke Janse van Rensburg

Dit is droog in ons land. Ons almal voel dit. As jy nie familielede het wat op plase swaarkry nie, het jy dalk al van die foto's of video's op sosiale media, televisienuus of in koerante gesien. Dit ruk 'n mens elke keer.
 
In verlede week stap ek in by 'n apteek waar 'n groot stapel toegedraaide skoenbokse vir die Boks vir Boervroue-projek staan. In die verbygaan wonder ek nogal by myself watter effek hierdie bokse op die ontvangers etlike kilometers weg sal hê. Daardie aand lees ek die volgende inskrywing op sosiale media raak van 'n ontvanger van só 'n boks:
 
"'n 76-jarige oom bel my nou. Sy woorde: 'My kind, die Liewe Heer het wragtig nie van my vergeet nie. Behalwe daai oorvloedige twintig bale voer, kry die ouvrou toe mos 'n boks ook. Jy sal my nou nie glo nie, dis wragtig op haar verjaarsdag! Sy is 73 jaar oud vandag. En my kind, dis nou al vier jaar sedert ons enigste kind na ons Hemelse Vader is. Ook vier jaar dat ek niks vir die ouvrou kon koop nie. Ons het mekaar maar net gedruk met verjaarsdae. Nou laat ek jou vertel, ons vier hande maak toe saam daai boks oop. Koffie, koekies, 'n bottel wyn, haargoed, 'n koekie seep en (en daar breek sy stem) my kind, die mooiste, pienk string pêrels. Regte pêrels!' Hy bly toe stil, maar ek kon hoor hy huil. Toe sê hy:  'My kind, en daar is nog 'n blik kondensmelk, twee onderbroeke vir my (sê hy half skaam), nogal die regte grootte en daar is genoeg kosgoed en vir die huishulp wragtig 'n koekie seep en room ook. My kind, ai my kind..... en toe gaan sit ek en ma asof ons nog 20 jaar is en vryerig is, plat op die kombuisvloer met ons koekies en wyn en vier haar verjaarsdag. My kind dankie vir die boks, maar veral vir ma se pêrels. Ek gaan nou groet en vir die skape kos gee. Jy is vanaand 'n pêrel in ons God se hemelruim. . .' Toe ons groet, sit die trane vlak. 'Totsiens oom, dans vanaand met die ouvrou. Ons is bitter lief jou... vir julle... ons Karoo Boere.'"
 
Ons almal weet van nood reg rondom ons – enkelma's wat swaar trek, bejaardes wie se pensioen hulle nie deur die maand dra nie, weeskinders, broodwinners wat by die werk afgelê is. Wat doen ons aan hierdie nood? In Deuteronomium 15:11 lees ons: "Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees . . ." In Hebreërs 13:16 staan geskryf: "Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is." En in Spreuke 19:17 lees ons: "Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed."
 
Wanneer ons ons harte oopmaak en uitreik, word ons instrumente in God se hand. Ons tyd, geld, kruideniersware, veevoer, koekie seep of pienk pêrels word dalk die antwoord op iemand anders se gebede. Kom ons hou ons oë oop vir geleenthede om goed te doen en mededeelsaam te wees. Só skyn ons God se lig in ons gebroke wêreld. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie vir U oneindige liefde. Help my asseblief om geleenthede raak te sien waar ek 'n instrument in U hande kan wees. Versterk my asseblief ook om 'n stap van geloof te neem en uit te reik en 'n verskil te maak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Meer oor die Boks vir Boervroue-projek: https://www.facebook.com/Boks-vir-Boervrou-107467370665265
 
Vir meer stories:
  o Webtuiste: www.benescke.co.za
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop
 
Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.