Benescke Janse van Rensburg

Twee Bloemfonteinse skole, Eunice Primary and Eunice High School, het aan die begin van die jaar saamgespan om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Leerders het elke Vrydag kleingeld skool toe gebring. Saam met ’n paar koekverkopings en ander fondsinsamelingsinisiatiewe deur die jaar is genoeg geld ingesamel sodat hulle in verlede week ’n nuwe mobiele klaskamer aan ’n plaaslike Dagsorgsentrum kon oorhandig. Zinette de Wet, skoolhoof van Eunice Secondary se slagspreuk vir die inisiatief sê nogal baie: “Big change starts with small change.” Dít is wat hulle die skoliere met die inisiatief wou leer.

In ons lewens geld dit ook. Of dit is om ’n bepaalde gewig te bereik, om jou eie besigheid van die grond te kry, om uit die skuld te kom, om die Bybel beter te leer ken, om beter verhoudings met jou kinders te bou of dalk om ’n groter “spark” in jou huwelik terug te kry – alles begin met ’n keuse, gevolg deur gebed, geduld en deursettingsvermoë in die klein dingetjies wat aanhoudend gedoen word. Klein veranderings bring mettertyd groot verandering.

In Sagaria 4 lees ons van ’n visioen van hoe die tempel voltooi sou word met die hulp van God se Gees. Dit lyk na ’n ontsettende groot projek - selfs onmoontlik. Dan in Sagaria 4:10 lees dat die projek begin en hiermee saam ’n kragtige boodskap: “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.” 

In ons lewens moet ons ook nie die eerste stap na verandering geringag nie. Dit beteken dat ons “uit die boot” geklim het. Begin nou net vorentoe stap. Kom ons hou ons oë gevestig op God terwyl ons geduldig, biddend, tree vir tree gee in die rigting van ons doelwit. Kort voor lank, mag ons ook dalk opgewonde deur die “lint” van ons doelwit breek wat vroeër totaal onmoontlik gevoel het. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my versterk wanneer ek swak is. Help my asseblief om die eerste stap te doen om (noem spesifiek) te bereik. Versterk my asseblief om deur te druk wanneer dinge moeilik gaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

• Lees meer oor die projek: https://www.bloemfonteincourant.co.za/big-change-starts-with-small-change/?fbclid=IwAR2qMixEAmrsQRiGOBK4n0ljUd-DGCb559vJ4r7BsFQUFqWaX4aiIkokgXw

Sien foto van Zinette met die oorhandiging:
  o Webtuiste: www.benescke.co.za
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop

Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.