Benescke Janse van Rensburg

Iets mooi het gisteroggend tydens my radioprogram gebeur. Ek werk by 'n Christenradiostasie in die Kaapse Skiereiland. Om gebedsversoeke op ons Whatsapp-lyn in die ateljee te ontvang, is niks vreemd nie. Dit gebeur daagliks regdeur die program. Tog, gisteroggend was daar 'n boodskap wat my aandag getrek het - en selfs my hartsnare geroer het.
 
'n Bekommerde ma het geskryf: "My 13-jarige dogter het volgende Donderdagaand haar laerskoolafskeiddans en my matriekseun se matriekafskeid is die aand daarna. Ek het nie 'n sent op my naam nie, maar hulle glo daar sal wel 'n afskeid wees. Ek is totaal desperaat en uitgestres. Ek weet nie meer watter kant toe nie. Bid asseblief saam met my." Om meer inligting te kry, het ek die vrou 'n luitjie gegee. Toe ek vra of sy kan praat, was haar antwoord: "Ek staan nou net hier van my knieë af op waar ek my hart voor God uitgestort het."
 
Nadat ek die luisteraars van die vrou se situasie vertel het, het ons Whatsapp-lyn behoorlik gegons van boodskappe waarin mense hulp aanbied. Een van die luisteraars het geskryf: "Ek het vanoggend vir God gevra om my te wys waar ek goed kan wees vir iemand anders. Hierdie voel vir my reg." Sy het haar eie dogtertjie se rokkie wat dié onlangs na haar laerskoolafskeid gedra het vir die 13-jarige dogtertjie geskenk.
 
Dié gebeurtenis het my laat dink aan Jesus se woorde in Matteus 6:18: "Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon." In Spreuke 5:21 lees ons: "'n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy." Ook in 2 Kronieke 16:9 lees ons: "Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou."
 
Het God die ma langs haar bed gesien kniel? Het Hy haar gebede gehoor? Was dit Hy wat my aandag na haar boodskap getrek het? Was dit Hy wat deur sy Heilige Gees die luisteraars se harte aangeraak het om te help? Ek is oortuig daarvan. Hy is almagtig, soewerein en steeds in beheer.
 
Al wat die ma gehad het, is haar geloof in God. Dit was genoeg. Wat is dit wat jy vandag benodig? Onthou, God sien alles raak. Hy hoor ons gebede. En Hy is steeds in staat om die onmoontlike moontlik te maak – soms op vreemde maniere. Sterkte.
 
Vader God, baie dankie vir U liefde. Wys my asseblief waar ek U hande en voete kan wees om 'n deurbraak vir ander te bewerkstellig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
Luister na die aankondiging van die goeienuus op die radio: www.benescke.co.za.
 
Nog stories:
  o Webtuiste: www.benescke.co.za
  o Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop
  o Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop
 
Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.