Neville Turley

Jesus het toe die menigte mense saam met sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou. Markus 8:34-35

In die gedeelte wat ons vers vir vandag insluit, is Jesus besig om oor sy naderende lyding en dood te praat. Ons kon in daardie skare gewees het, want hierdie boodskap het ook op ons betrekking.

In hierdie gedeelte is dit die eerste keer dat daar in die Markus-Evangelie na die kruis verwys word. Dink net, as jy deel van daardie skare was wat onder die heerskappy van die Romeine gestaan het, sou die noem van die woord "kruis" koue rillings langs jou ruggraat afgestuur het.

Die woord "kruis" het nie vandag dieselfde impak op ons ore nie. Die betekenis van dit wat ons Here Jesus egter vir die skare gesê het, is nog presies dieselfde. Indien jy Jesus wil volg moet jy bereid wees om Hom eerste in jou lewe te stel. Daar is geen ander manier nie. Niks en niemand moet belangriker wees as jou verhouding met jou Verlosser nie. Jy moet bereid wees om jouself te verloën, jou kruis op te neem en Hom te volg.

Dank die Here vir die getuienis van Stefanus. Lees Handelinge 6-8:1. In elke geslag is daar martelare wat lyding tot die dood moes verduur en deur hulle lyding die Naam van die Here verheerlik het.

Die vervolging van Christene duur vandag voort. 'n Mens moet maar net mediaberigte volg om te besef hoe verskriklik gelowiges in sommige lande behandel word en soms doodgemaak word, alles ter wille van hulle geloof in Christus.

Nie almal van ons word deur Christus geroep om die hoogste offer te bring nie, maar ons almal is geroep om 'n lewe met Christus as die middelpunt, te leef. Dit beteken om God se wil vir ons lewens te aanvaar en uit te leef. Die Heilige Gees gee ons die krag om dit te doen.

Gebed: Ons dank U Here vir die getuienis van almal wat vir hulle geloof geleef en gesterf het. Bo alles dank ons U, Hemelse Vader, vir Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof. Ons vestig ons hoop in die Drie-eenheid, Vader Seun en Heilige Gees. Amen