Neville Turley

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. 2 Timoteus 3:16-17

Handboeke in alle vakgebiede raak verouderd en soos kennis ontwikkel word moderner boeke gepubliseer. Teologiese studente is seker 'n uitsondering op die reël want daar is een essensiële boek vir hulle studies waarvan die boodskap nooit verouderd raak nie – die Bybel.

Die Bybel is die enigste boek wat aan die behoeftes van alle geslagte beantwoord. Taalgebruik en woorde se betekenis verander miskien, maar die waarheid en die inhoud van die Heilige Skrif verander nooit.

Die Bybel is meer as net 'n boek, dit is soos Paulus dit beskryf, "deur God geïnspireer". Dit is God se persoonlike brief aan sy kinders – aan jou en aan my.

Die Heilige Gees open ons verstand sodat ons kan verstaan wat deur die Bybel aan ons geopenbaar word. In die bladsye van hierdie boek vind ons al die kennis en praktiese instruksies wat ons as gelowiges benodig. Die Bybel verduidelik verlossing deur geloof in Jesus Christus en rus ons toe om tot eer van God te kan leef.

Dit was Paulus se raad aan Timoteus en ons moet gerus daarop ag slaan. Soos Woodrow Wilson die 28ste Amerikaanse President gesê het: "Wanneer jy die Bybel lees, sal jy weet dat dit die Woord van God is, want in dit sal jy die sleutel vind tot jou eie hart, jou geluk en jou plig."

Ongelukkig is daar baie mense wat nie 'n eie Bybel besit nie en wat geen hoop het om, sonder hulp, ooit een te besit nie. Miskien roep God jou om na hulle uit te reik.

As deel van die vieringe van die Bybelgenootskap se 200ste bestaansjaar in 2020 is die 2 Miljoen Bybels-projek in die lewe geroep. Deur 'n bydrae aan hierdie projek help jy die Bybelgenootskap om Bybels in die hande te plaas van diegene wat nog nie 'n Bybel besit nie.

Die behoefte is groot. Daar is 'n verlore wêreld wat van die verlossing deur ons Here Jesus Christus moet hoor, en hoe beter as deur die Bybel.

Gebed: Here, ons dank U vir u Woord wat ons toerus vir 'n regte lewenswyse en vir elke goeie werk. Help ons om tot u eer te leef. Amen