Neville Turley

Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. Johannes 12:46

In die Bergprediking leer Jesus sy volgelinge: “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” (Matteus 5:14-16)

Die boodskap is duidelik. Jesus, die Lig vir die wêreld leer sy volgelinge om ligdraers vir die wêreld te word. Ons moet die lig van Christus beide deur onsself en ons daaglikse aktiwiteite weerspieël.

Dit is ongelukkig 'n realiteit dat baie Christene dikwels 'n meer negatiewe uitkyk as 'n positiewe een het, en ook swyg oor hulle Christelike getuienis. Hulle voel dikwels veronreg deur die omstandighede waarin hulle hulle bevind en het ook nie baie hoop dat sake in die nabye toekoms sal verbeter nie. Ongelukkig weerspieël hulle houding hulle wanhoop.

Sulke pessimisme is 'n algemene menslike reaksie. Norman Vincent Peale (1898-1993) was 'n Amerikaanse skrywer en predikant. Deur sy topverkoper boek "The Power of Positive Thinking" het hy talle mense geïnspireer en gemotiveer deur sy konsep van positiewe denke. "Ek plaas vandag my lewe, my geliefdes, my werk in die Here se hande. Daar is geen gevaar in die Here se hande nie, net goed. Wat ook al gebeur, en wat ook al die resultate is, wanneer ek in die Here se hande is, is dit sy wil en dit is goed."

Dit is nie maklik om positief te wees wanneer jy voel alles en almal het teen jou gedraai nie. Wanneer jy, instede om vrolik en vol selfvertroue deur die lewe te gaan, wanhopig probeer om al die uitdagings wat oor jou pad kom, te hanteer. Dit is juis dan wanneer die getuienis van Jesus vir jou uiters belangrik is. “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Johannes 8:12)

Ons Here het ons beloof dat die Heilige Gees in ons lewens teenwoordig is. (Johannes 14:16-17) Hy sal ons elke tree van die pad lei en ons help om skynende ligte in hierdie wêreld tot eer van die Almagtige God te wees.

Gebed:  Hemelse Vader, dankie dat ons kan leef in die lig van u Seun en dankie dat u Heilige Gees ons lei. Amen