Neville Turley

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.  Filippense 4:6-7

Gebed was uiters belangrik in die lewe van ons Here Jesus hier op aarde. Dit moet ook 'n belangrike deel van ons lewens uitmaak. Jesus sê dat as ons die troon van genade nader en ons Vader om leiding en hulp vra, sal ons ontvang. (Matteus 7:7-11)

Maar hoe moet ons bid? Dawid het die regte houding gehad, toe hy ontsteld was: "Ek het op die Here bly wag, Hy het na my afgebuig en my hulpgeroep gehoor." (Psalm 40:2 (BDV)) Te dikwels wanneer ons bid, verwag ons dat God ons onmiddellik moet antwoord en vir ons moet gee wat ons vra. God het egter sy eie tyd en dit is sy wil wat sal seëvier, nie ons s'n nie.

God beantwoord elke gebed op een van drie maniere – ja, nee en wanneer die tyd ryp is.

Ja, soos byvoorbeeld in die geval van Elia die profeet:  "Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer." (Jakobus 5:17-18)

Nee, soos in die geval van Paulus. Drie keer het hy vir die Here gevra om die "doring in die vlees" wat hom gefolter het en hom soms in die uitvoer van sy bediening gehinder het, weg te neem. Instede daarvan om dit weg te neem het God Paulus soos volg geantwoord: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”Lees 2 Korintiërs 12:7-10.

Wanneer die tyd ryp is, soos in die geval van die priester Sagaria en sy vrou, Elisabet.  Vir baie jare het hulle gebid vir 'n kind. Toe hulle albei reeds oud was, het die engel Gabriël vir hulle die nuus gebring dat hulle 'n seun sou hê wat reeds van sy geboorte af met die Heilige Gees vervul sou wees en wat die weg sou baan vir Christus. (Lukas 1:13-17)

God is 'n God wat ons gebede hoor en antwoord. Hy is die God na wie ons ons behoeftes kan neem. Wanneer ons bid, is ons in die heilige teenwoordigheid van God. Daar kan ons ons sondes bely want "as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid."(1 Johannes 1:9)

Paulus moedig die kerk in Tessalonika aan om gedurig te bid. Ons moet ook.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die hoop wat ons deur gebed het en help ons om voortdurend in gesprek met U te bly. Amen