Deur Benescke Janse van Rensburg

Ek deel graag met jou ’n getuienis van Lorrein Katzke, ’n kollega van my by die radiostasie waar ek werk wat demonstreer dat God altyd BETYDS is.

Lorrein: “Een Sondaglaatmiddag was ek op pad terug na die koshuis waar ek as inwonende personeellid gewoon het. Met my klein onderwyssalarissie, kon ek net genoeg geld afknyp vir petrol om naweke by my ouers te gaan kuier.

Aan die buitewyke van die dorp het ’n armoedige huisie my aandag getrek. In my hart het ek duidelik ervaar dat ek ’n sekere bedrag geld, vir die mense moes gaan gee. Ek het die ‘stemmetjie’ stilgemaak aangesien ek die geld self baie nodig gehad het. Weer het ek ’n dringendheid binne my gees ervaar. Weer het ek niks gedoen nie. Toe ek dit vir ’n derde keer hoor, het ek sommer hardop gebid: ‘Here, as hierdie U is wat met my praat, laat die radio stil word.’  My woorde was skaars koud, toe die radio wat gespeel het, afslaan – asof ’n onsigbare hand dit afgeskakel het. Onmiddellik het ek omgedraai na die huisie.

Op pad na die voordeur, het ek gewonder wat ek gaan sê. Hoekom sal ’n vreemdeling skielik geld by ’n huis kom aflaai? Ek het aan die deur geklop. Binne kon ek ’n baba hoor huil. Die man wat die deur oopgemaak het, het lewensmoeg gelyk. Die huis agter hom was donker met enkele kerse wat gebrand het. Ek het die geld na hom uitgehou – alhoewel ek gehoop het dat hy sou sê hulle het dit nie nodig nie. Hy wou weet hoekom ek die geld vir hulle bring. Ek het gesê dat ek ervaar het dat God my gestuur het. Trane het oor die man se wange begin stroom. Hy en sy vrou het vroeër daardie aand vir ’n uitkoms gebid. Hulle krag was afgesny en daar was geen geld vir melk vir die baba in die huis nie.

Ek wens ek kon sê dat ek met ’n lied in my hart daar weg is. Ek is nie. In my hart het ek gewonder waarom die Here my sou gebruik om my laaste geld vir wildvreemde mense te gee. Die volgende dag moes ek na die poskantoor gaan om ’n pakkie te kry. Dít was nog nie daar nie, maar ek het wel ’n ander brief wat geadresseer was aan my gekry. Dit was anoniem, maar ek kon sien dat dit in Pretoria gepos was. Binne was presies dubbeld die hoeveelheid geld wat ek die vorige dag weggegee het! In my hart weet ek tot vandag Wie dít eintlik vir my gegee het. Hy is betyds vir dié wat op Hom wag.”

Lorrein is reg. God is altyd BETYDS – al voel dit met tye asof Hy van ons vergeet het. In Psalm 27:14 lees ons: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” Ook in Spreuke 19:17 staan geskryf: “Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.”

God weet wat ons benodig - ’n lewensmaat, ’n werksgeleentheid, ’n baba, ’n droom om verwesenlik te word of ’n finansiële situasie om om te draai. Kom ons wag op Hom, want Hy is altyd betyds. Sterkte.

Vader God baie dankie dat U tydsberekening altyd perfek is. Help my om nie ongeduldig te raak wanneer ek lank wag op ’n deurbraak nie. Help my ook om gehoorsaam te wees wanneer U my benodig as instrument om vir iemand anders die antwoord op hul gebede te wees! Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “B”: Beskermer, Bonatuurlike krag, Bekwaam, Bevryder, Bemoediger, Belangrik, Barmhartig, Betroubaar, Baken, Begin en Einde, Besonders, Blydskap.
  • LETTER C: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “C”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om klik hier en gesels saam: