Deur Benescke Janse van Rensburg

Een van gister se koerant voorbladstories, het my diep getref. ’n 2-jarige seuntjie, Jeandré Victor, het 12 dae gelede by sy Bloemfonteinse kleuterskool inmekaargesak. Sy hartjie het gaan staan.

Noodreddingspersoneel is ontbied terwyl ’n juffrou aangehou het om Jeandré se hartjie te masseur. Oomblikke later het almal gespanne gestaan en toekyk hoe dit lyk asof die noodpersoneel tevergeefs probeer om alles in hul vermoë te doen om Jeandré se lewe te probeer red.

Jeandré se ma, Bianca vertel hoe ’n predikant nader gestaan het en gevra het of hy vir Jeandré kan bid. “Ons het almal nog gestaan en saambid, toe die ER24personeel skielik skree dat daar ’n polsslag is.” Dit was die negende keer dat hulle Jeandré se hartjie geskok het om dit aan die klop te probeer kry. Hy is dadelik in die ambulans gelaai waarna hulle met hom hospitaal toe gejaag het.

Aangesien Jeandré se brein geswel was, is hy tot gister onder sedasie gehou. Die medici het aanvanklik gesê  het dat daar ernstige breinskade sou wees, maar die MRI-toetse het later bevind dat die skade minimaal is. Jean, Jeandré se pappa, het die volgende aan die koerant gesê: “Ek kan getuig dat ons ’n wonderwerk beleef. Ons kind was weg en hy lewe weer. Ons is so dankbaar. Die Here se hand was en is oor hom en Hy loop saam met ons die pad.”

God het in elke situasie die FINALE SÊ. Dit maak dus nie saak hoe ’n situasie op papier of in die realiteit vir ons lyk nie (ons finansies, gesondheid, verhoudings of ’n situasie in die werkplek), God het altyd die FINALE SÊ. In Spreuke 16:1,9 lees ons: 'n Mens kan sy voornemens hê, maar die laaste woord daaroor kom van die Here af... ’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.”

Al werk dinge soms anders uit as waarop ons gehoop het, vereis ons geloof dat ons moet glo dat God die groter prentjie sien. Ook dat Hy ons sal versterk in uitdagende tye. In 2 Korintiërs 12:9 lees ons: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Het God die gebede van die volwassenes, maar ook die kleuterskoolkinders se onskuldige gebede vir hul maatjie gehoor? Natuurlik. God is Almagtig en Soewerein. In stede van stres, kom ons plaas ons geloof en vertroue volkome in Hom – ook al het ons nie al die antwoorde nie. Hy het immers altyd die FINALE SÊ. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U altyd die FINALE SÊ het in elke situasie. Help my om in U te berus en te vertrou dat U alles ten goede kan laat meewerk ook ’n my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “F”: Familie, Fakkel, Fors, Fondasie, Fasiliteerder.
  • LETTER F: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “G”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om klik hier en gesels saam: