Deur Benescke Janse van Rensburg

Vroeër die week staan ek met ’n drie-weke-oue babaseuntjie in my arms. Ons het tydens my radioprogram by ’n nie-winsgewende organisasie in die Kaap gaan uitsaai wat na “weggooibabas” omsien. Terwyl ek kyk na die weerlose kindjie, moes ek hard sluk. Hoe gaan hy voel as hy groot genoeg is om te verstaan dat sy ma hom verlate in ’n parkie oorkant die hospitaal gelos het? Gaan hy sukkel met verwerping? Gaan hy bitter en kwaad wees? Watter tipe ouer gaan hy eendag vir sy eie kinders wees?

Vandag is Valentynsdag. Vir sommige van ons is dit ’n dag waarop die liefde uitspattig gevier word. Vir ander is dit ’n dag waarop ons liewer in die bed wil bly omdat dié dag ’n spreilig plaas op ons eie stryd met verwerping, ’n gebroke hart of woede teenoor iemand wat ons teleurgestel het.

Seerkry, teleurstelling of verwerping beroof ons van ons selfvertroue. Dit laat ons twyfel in ons eiewaarde en vermoëns. Dít veroorsaak dat ons terughoudend leef omdat ons bang is dat ons weer sal seerkry. Die vyand wil ons daar hou – gewond en passief. Dít verhoed dat ons die roeping uitleef wat God binne ons geplaas het.

In Psalm 139:13,16 herinner die Psalmdigter ons egter dat God ons IDENTITEIT vestig: U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. . . U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Ook in Jesaja 49:16 sê God: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer . . .” In Lukas 12:7 lees ons: Selfs die hare op julle kop is almal getel.” En in Jeremia 29:11 sê God: “Ek weet wat Ek vir julle beplan . . .  voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!”

Nie een mens op hierdie aarde is ’n ongeluk nie. Ons behoort aan die Een wat perfek is en wat ons gemaak net soos wat ons is – om ’n instrument in sy hande te wees.

Dit maak dus nie saak wat ons verlede is, in watter omstandighede ons gebore is of grootgeword het nie. Al wat saak maak, is dat ons God vertrou en ons identiteit in Hom vind. Só kan Hy ons herstel en genees en met selfvertroue vul om te word wie Hy ons aanvanklik geskep het om te wees. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek aan U behoort. Help my asseblief om nie langer toe te laat dat omstandighede my afdruk nie, maar om my identiteit in U te vind. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • LETTER J: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “J”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om klik hier en gesels saam:
  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “I”: Immens,Integriteit, Inspirerend, Insiggewer, Indrukwekkend.