Deur Benescke Janse van Rensburg

In die hospitaalkamer het Marelize Badenhorst se hart vinnig geklop. Sy en haar man, Karel het weereens nodig gehad om God vir ’n wonderwerk te vertrou – dieselfde God wat aan hulle ’n baba gegee het toe dokters hulle slegs ’n 15%-kans daarvoor gegee het. Nie net het hul swanger geword na jare se gebed nie; hulle het nog ’n tweeling daarna ook gehad. Dié keer was Marelize 34-weke swanger met hul vierde seuntjie, Christiaan. Om voortydige kontraksies te stop, is sy gehospitaliseer. Saam met dít het ’n nie-kwaadaardige gewas in haar baarmoeder gegroei. Die risiko was dus groot.

Marelize: “Vir 8 dae lank het ek in die hospitaal gelê en bid en Bybel lees. Te midde van onsekerheid en spanning, was ek heeltyd bewus van God se teenwoordigheid. In dié tyd het heelwat mense besoek kom aflê. Aangesien ek meestal op my linkersy gelê het, het heelwat van my besoekers op die onderkant van my matras gesit en gesels.

Die oggend voor die keisersnee gedoen moes word, was ek vroeg wakker. Vreemd het ek ’n voorgevoel gehad dat ’n moeilike tyd vir ons voorgelê het. Ek het sag gebid en vir God gevra vir vertroosting. Dit was skemer in die kamer en daar was niemand nie. Tog het ek skielik duidelik gevoel hoe my matras induik presies waar al my gaste kom sit het. God se teenwoordigheid het my kamer gevul. Ek het geweet dat Hy daar is. Al wat ek kon uitkry was: ‘Dankie Here.’

Ek is in die teater ingestoot. My spinale blok het nie gewerk nie en ek moes narkose kry. Christiaan het by geboorte vrugwater ingeasem. Omdat sy longe plat geval het, moes hy suurstof kry. Teen laatmiddag was sy organe besig om te versaak en hy moes dringend na ’n ander hospitaal se neonatale noodeenheid oorgeplaas word. ’n Besonderse moeilike nag het voorgelê waarin dokters vir my kind se lewe moes veg.  

In die dae daarna, terwyl my jongste aan pype en monitors gekoppel gelê het, het my oudste, wat toe 5 jaar oud was, ook by die hospitaal opgedaag. Hy het beide sy arms gebreek nadat hy van ’n kas afgespring het. Deur hierdie ontsettende donker moeilike tyd vir ons as gesin, het ek ’n bonatuurlike kalmte ervaar. Ek het geweet dat God in beheer is. Dit is asof Hy met sy besoek daardie oggend in my hospitaalkamer my geloof wou stig omdat Hy geweet het wat voorgelê het.

Gister was Christiaan 5 jaar oud. Elke keer as ek na my blou-oog blonde-kop seuntjie kyk, weet ek dat God lééf. Hy is ons Anker en Hy vul ons met kalmte en krag wanneer ons nie weet watter kant toe nie. Alle eer kom Hom toe.”

Marelize is reg. God is die bron van ons KALMTE en KRAG. In Filippense 4:6-7 lees ons: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” Ook in 2 Korintiërs 12:9 lees ons: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

Mag ons in elke storm op ons lewenspad ons kalmte en krag in God vind. Hy verander immers nooit nie. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my dra deur elke storm. Vul my vandag met kalmte en help my om my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “K”: Koning van Konings, Konstant, Kern van alles.
  • LETTER L: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “L”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om klik hier en gesels saam: