Deur Benescke Janse van Rensburg

Die afgelope Maandag het motorsport entoesiaste geskok gesit en toekyk hoe renjaer, Ryan Newman tydens NASCAR se gesogte Daytona 500 geleentheid in Amerika in ’n ongeluk betrokke raak. Newman het tydens die laaste rondte voorgeloop voordat sy motor deur die lug getol en in vlamme teen die baan afgerol het. Dát hy oorleef het, is ’n absolute wonderwerk. Hy is tans in ’n ernstige, maar stabiele toestand in die hospitaal waar hy versorg word.

Terwyl ek na die videogreep kyk (sien hier: https://www.youtube.com/watch?v=eu_C4UhfAy4 ) tref dit my dat ons lewens soms só omvêr gewerp word. Alles gaan goed totdat ons die verdoemende nuus ontvang van ’n dokter oor ons gesondheid. Of ons vind dalk uit van ’n huweliksmaat se buite-egtelike verhouding of ’n kind se verslawing. Of ons word ingelig dat ons by die werk afgelê word sonder ’n alternatiewe inkomste. Skokkende nuus laat ons voel soos Newman moes voel in sy motor– totaal uit beheer.

God bly egter vir ons ’n veilige LIGTORING waarheen ons te midde van elke storms in ons lewens kan vlug. In Psalm 91:1-2 lees ons: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou. . .’” Ook in vers 14 lees ons: “‘Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,’ sê die Here, ‘omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. . .”

Voel jou lewe tans omvêr gewerp? Mag ek jou aanmoedig om na God te vlug. Ons kan Hom vertrou omdat Hy die toekoms ken en bepaal. Hy is die Allerhoogste God, ons LIGTORING. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek by U kan kom skuiling soek. Vul my met vrede. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “L”: Luister, Leeu van Juda, Leermeester, Lamp, Lewensredder, Lig.
  • LETTER M: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “M”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om lewer kommentaar hier:
  • Facebook: https://www.facebook.com/storiesvanhoop/ of
  • Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en