Deur Benescke Janse van Rensburg

Kom vir ’n oomblik saam met my terug na daardie vertrek in Jerusalem. Dit is die Pinksterfees. Jesus het pas na die Hemel opgevaar. Sy opdrag aan die dissipels was om hier bymekaar te wag vir die “geskenk” wat God aan hulle wil gee. Hulle was gehoorsaam. Tog het hulle vrees en onsekerheid in hul harte. Sal hulle ook vervolg word noudat Jesus weg is?

Meteens klink ’n geluid op soos ’n stormwind. Dan verskyn vuur in tonge bokant elkeen se kop. In daardie oomblik is almal in die vertrek met die Heilige Gees vervul. Weg was die vrees en onsekerheid van vroeër, want meteens het hulle met ’n ongekende selfvertroue die waarheid begin verkondig.

Stop vir ’n oomblik hier.

Besef ons werklik wat in daardie oomblik in die kamer gebeur het? Die Almagtige, Soewereine God het sy Heilige Gees uitgestort wat binne ons kom woon het. Dit is hierdie Heilige Gees wat Jesus Christus uit die dood opgewek het.

In die Ou Testament lees ons van oomblikke waar mense buitengewone dinge kon doen of waagmoed beleef het omdat die Heilige Gees oor hulle gekom het. Elia het byvoorbeeld vinniger as ’n perd gehardloop (1 Konings 18:46), Simson was uitsonderlik sterk (Rigters 13:25;14:6), Gideon en Joshua wat eens bang was, het skielik waagmoed gehad (Numeri 27:18 en Rigters 6:34) en Besaleël kon besonderse, kreatiewe dinge vir die tempel ontwerp (Eksodus 31). Die Heilige Gees het egter nog nie in hul gewoon nie. Eers hier in Jerusalem het ’n totale draaipunt gekom rondom ons as mens se verhouding met God.

Jesus het sy dissipels op wat sou volg voorberei. In Johannes 14:12 lees ons: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.” Hy het geweet dat die Heilige Gees, wat op pad was, ons in staat sou stel om hierdie dinge te doen. Ook in Johannes 14:18,26 lees ons: “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. . . wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Dan in Romeine 8:26-27 lees ons: Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.”

Wanneer ons met die Heilige Gees van God vervul word, word ons soos die dissipels met MOED gevul.Ons besef wie hierdie God van ons is en juis daarom kan ons onverskrokke voortgaan om die boodskap te verkondig.

Kom ons dank God opnuut vir hierdie geskenk van sy Heilige Gees, die Een wat ons lei, onderrig en vertroos. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U ons nie as weeskinders agtergelaat het nie, maar dat u Heilige Gees vandag in ons woon. Vul my opnuut met u Gees en help my om U daagliks beter te leer ken en verstaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.