Deur Benescke Janse van Rensburg

Was jy al op ’n punt waar jy moed wou opgee dat iemand in jou lewe sal verander? Dalk is dit jou huweliksmaat met sy of haar skerp tong? Dalk is dit jou bestuurder wat die werkplek onuithoudbaar vir jou maak? Dalk is dit ’n ouer wat jou oordonder of ’n geliefde wat in ’n verslawing vasgevang is? Hierdie goed maak seer.

Vroeër die week gesels ek met Ilse Maartens, ’n voormalige Kaptein in die polisiediens, wat nou die bestuurder by MES-aksie in Kaapstad is, ’n organisasie wat na haweloses in die strate van Kaapstad uitreik. Hier is een van haar getuienisse:

Ilse: “Ons het vir ’n geruime tyd gereeld in ’n sekere area gewerk waar ons baie gereeld die bejaarde oom Johnny, oftewel Rasta soos almal hom genoem het, op ’n spesifieke parkeerarea gekry het. Hy het met dagga gesmokkel en heeltemal te veel gedrink. Soms sou hy spottenderwys na ons kyk en vra: ‘So wat doen Jesus se mense so laat op straat?’ Alhoewel ons geen verandering in sy lewe kon opmerk nie (en eintlik min hoop daarvoor gehad het), het ons aangehou om onvoorwaardelike liefde te betoon en hulp aan te bied.

Een Paasfees het Rasta radikaal tot bekering gekom. Dit was ’n Paulus-bekering waartydens hy in ’n oomblik van sy verslawing aan alkohol en dwelms bevry is. Sy storie was dat Jesus aan hom verskyn het en hom gevra het: ‘Hoeveel keer moet ek my mense nog na jou toe stuur?’

Dit het nog ’n tyd geneem om Rasta van die strate te kry en in ’n werkbare behuisingsopsie te plaas. Ons het egter geglo dat God aan die werk in sy lewe was. Sowat ses maande na sy bekering kom hy een dag by ons kantoor in. Sy transformasie was só groot, dat ek hom skaars herken het. Uit verbasing was my eerste woorde: ‘Sjoe Rasta, is dit jy?’ Sy antwoord was egter: ‘Nee suster Ilse. Ek is Johnny Blankenberg in Christus en Christus in Johnny Blankenberg.’ Voor my oë kon ek sien dat God hierdie man aangeraak het. Hy het hom omgekeer en sy siel gered. Johnny is later oorlede aan asma, maar in my hart het ek geen twyfel dat Johnny by sy Skepper is nie.”

In Openbaring 21:5 sê God: “Kyk, Ek maak alles nuut.” Ook in Jesaja 1:18 staan geskryf: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” En in 2 Korintiërs 5:17 lees ons: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.”

God maak ons NUUT. Geen persoon is ooit te verlore of te vêr weg om omgekeer te word nie. In stede daarvan om “die verlorene” te bepreek en te veroordeel, is dit soms nodig vir ons om ’n tree terug te gee. Kom ons praat met God oor die saak. Kom ons gee Hom ’n kans om te werk deur sy Heilige Gees. Kom ons gee selfs ’n stap verder en vra Hom om ook aan ons te kom wys wat ons in ons eie harte en lewens moet verander te midde dié situasie.  

God werk anders as wat ons dink. Hy het Johnny Blankenberg ontmoet. Dít het sy lewe verander. God is steeds in staat om ook daardie moeilike mense in ons lewens te bereik op die manier wat Hy weet sal werk. Kom ons hou aan bid en vertrou Hom daarvoor. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my NUUT maak. Ek bring (noem die naam) na U toe en ek vra dat U hom/haar sal aanraak. Ook vra ek dat U my sal wys wat daar in my eie hart is wat ek moet verander. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Lesers se karaktereienskappe van God rondom die letter “N”: Nuut, Neutraliseerder, Naby, Nimmereindigende liefde, Naam bo alle Name.
  • LETTER M: Aan watter eienskappe van God dink jy onder die “O”? Jy kan ’n epos stuur na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. om lewer kommentaar hier:

Instagram: https://www.instagram.com/storiesvanhoop/?hl=en