Hennie Symington

So sệ Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. Openbaring 3:1-3

Die verhaal van die tuin van Eden, wat bedoel was as ‘n veilige hawe vir God se kinders om te geniet, loop helaas, heeltemal skeef. Die man en vrou wat God gemaak het, volg hulle eie kop en en raak die pad heeltemal byster. Die gevolg is dat hulle, deur pure eiesinnigheid, hulle Oos van die tuin van Eden bevind.

Hoekom dan? Die man en sy vrou, wou die lewe op hulle eie terme aanpak. Hulle proe willens en wetens die verbode vrug wat hulle soos God sou maak, maar in plaas daarvan dat hulle al die kennis ontvang, word hulle summier uit die paradys verjaag.

Hierdie droewige einde is nie vreemd vir ons nie, want die verhaal van Adam en Eva en die appel, herhaal homself ontelbare kere in die geskiedenis van die mensdom, en ook in jou persoonlike geskiedenis. Dis asof die mens aan ‘n kongenitale of aangebore kortsigtigheid lei. Ons kry dit net nie reg om die gevolge van ons optrede te antisipeer nie, en wanneer dinge verkeerd loop, blameer ons dit op ander of plaas die skuld ewe gerieflik op die duiwel.

Gebed: Here, net soos Adam en Eva, kies ons om ons skuld op ander, en selfs op U te pak. Vergewe ons Here, want ons is blind vir ons eie oortredinge. Amen